Vyf mense is Dinsdag in die vroeë oggendure in Rocklands, Mitchells Plain, in verband met die moord op ’n 58-jarige man in Welgelegen, Parow, in hegtenis geneem.
Vincent Bartes se lyk is Sondag kort ná 22:00 in sy huis in Generaal Hendrik Schoemanstraat gevind. Sy hande en voete was vasgebind.
Hy was in die slaapkamer van die huis waar hy alleen gewoon het.

Vincent Bartes Foto: Ayesha Akoodie/Facebook
Volgens inligting het Bartes veelvoudige steekwonde oor sy lyf, asook kopwonde gehad.
Veiligheidswagte het op sy lyk afgekom nadat bure Sondagaand vreemde geluide gehoor het en ’n harde knal, wat vir hulle soos ’n motorongeluk geklink het. Die bure het die veiligheidsmaatskappy ontbied om ondersoek in te stel.
Bartes se skootrekenaar en verskeie ander kleiner elektroniese toerusting is gesteel.
Sy selfoon wat aanvanklik nie opgespoor kon word nie, is wel Maandag in sy huis gevind.
Twee bronne het Dinsdag gesê speurders van die Parow-polisiekantoor het Dinsdag tussen 03:00 en 04:00 op verskillende huise in Rocklands toegeslaan.
Hier is ’n 24-jarige vrou, haar 22-jarige broer en drie minderjariges in hegtenis geneem. Een van die jeugdiges is glo intussen vrygelaat nadat die polisie sy alibi bevestig het.
Die vrou was glo aan Bartes bekend en het volgens een van die bronne Sondag by hom gekuier.
Sy was glo ’n gereelde kuiergas by sy huis. Na verneem word, het hy die vrou, wat glo ’n ontkleedanser is, in Cherries, ’n ontkleedansklub in Bellville, ontmoet.
Volgens die een bron het die vrou haar broer Sondag per taxi na Bartes se huis laat kom. Hy het nog twee van sy vriende saamgebring.

Die garagedeur van Vincent Bartes se huis wat beskadig is nadat sy vermeende moordenaars vermoedelik met sy voertuig daardeur gery het. Foto: Jaco Marais
Die bron sê die polisie ondersoek nog die motief, maar hulle vermoed dat daar deur die loop van die aand ’n bakleiery was waarin Bartes aangeval en doodgesteek is.
Die bron sê die polisiebeamptes op die toneel het reeds Sondagaand vermoed dat Bartes sy moordenaar(s) geken het.
Hulle het glo oral in die huis bloedbevlekte handdoeke gevind soos wat die moordenaar(s) vermoedelik bloed opgevee of probeer stop het. Bartes het hom vermoedelik doodgebloei.
“Daar is ook geld gevind wat erg bebloed was,” volgens die bron.
Bartes was glo ’n “geldskieter”.
Een van die jeugdiges het glo paniekbevange geraak en met Bartes se silwerkleurige Mercedes-Benz deur die garagedeur gery. Die voertuig is Maandagoggend verlate in Mitchells Plain gevind.
Die vier mense wat steeds in aanhouding is, sal Woensdag in die landdroshof in Bellville verskyn.