Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
4 dood in Kleinvlei-bloedbad

Die polisie is op soek na die insittendes van ’n wit Toyota Quantum-minibus ná ’n verby-ry-skietery in Eersterivier, Kaapstad, waarin vier jong mans dood is.

Lance Bailey (20), ’n student aan die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (KSUT), Sherwin Sonti (19), ’n belowende sokkerspeler, en Jason Jacobs (18) is Maandagaand in die skietvoorval in Kleinvlei dood, terwyl twee van hul vriende in die hospitaal opgeneem is.

Sherwin Sonti (19) is op die toneel dood. Foto: Facebook
Lance Bailey (20) is in die skietery dood. Foto: Facebook
Jason Jacobs (18) wat gesterf het.Foto: Facebook

Siyabulela Malo, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, het bevestig dat ’n vierde slagoffer Dinsdag in die hospitaal dood is en dat die vyfde slagoffer in ’n kritieke toestand is. Hul name is nog nie bekend nie.

Malo sê die polisie ondersoek vier sake van moord en een van poging tot moord ná die skietery wat om 20:20 in Marsstaat, Somerset Heights, plaasgevind het.

“Toe die polisie op die toneel kom, het hulle op vyf slagoffers afgekom. Drie is op die toneel dood verklaar en twee is na die hospitaal geneem. ’n Vierde slagoffer is in die hospitaal dood.”

“Niemand is nog in hegtenis geneem nie en mense met inligting word versoek om die Kleinvlei-polisie by 021 902 8314 of die Stopmisdaadnommer by 08600 10111 te bel.”

’n Tannie van Bailey, wat anoniem wil bly, sê hy is Maandagaand saam met vriende om glo kos te gaan koop.

“Minute later het ek hom bebloed in die straat sien lê. Hy het net gewag vir my en toe kom sê die polisie hy is dood.

“Hy was ’n lieflike mens en wou ’n onderwyser word. Hy het by KSUT in Mowbray gestudeer en het baie planne gehad, bendes was nie een daarvan nie.

“Lance was besig om iets van sy lewe te maak en hulle het net so sy lewe kortgeknip. Hy was nie ’n bendelid nie en het niks verkeerd gedoen nie,” sê sy.

Intussen het Samantha Herdien, ’n ouer van een van die slagoffers van Malibu Village, op Facebook gevra dat mense vir haar seun moet bid wat glo ná ’n skietery kritiek in die hospitaal is.

“Hou my seun asseblief in jul gebede. Hy is in ’n kritieke toestand in die hospitaal. Hy is 11 keer geskiet. Sy vriend is ook in die hospitaal en is twee keer geskiet, en drie (van hul) vriende is op die toneel dood. Mag hul siele in vrede rus.”

Julian Unthank, van die Eersterivier-gemeenskapspolisiëringsforum, het gesê dat die voorval vermoedelik bendeverwant is en ’n weerwraakaanval ná die moord op ’n bendelid kan wees.

“Dit was jong slagoffers wat op ’n straathoek in Somerset Heights gestaan het toe ’n taxi verbygekom en op hulle losgebrand het. Niemand weet wat hulle daar gemaak het nie, maar hulle het glo ’n vriend besoek.”

Unthank kon nie bevestig of die slagoffers bendelede was nie, maar het wel gesê dat mense in die gebied bespiegel dat hulle wel bande met bendes gehad het.

“Die saak word nie op stasievlak hanteer nie, en die provinsiale speurders is ingeroep om ondersoek in te stel. In hierdie stadium is daar nie duidelikheid wat presies gebeur het nie,” sê hy.

Unthank het die gemeenskap gevra om die polisie met inligting te kontak.

“Die gebied gaan gebuk onder bendegeweld en die polisie het die hulp van die gemeenskap nodig om hierdie misdadigers vas te trek.”

Unthank het vir sigbaarder polisiëring in die gebied gevra.

Meer oor:  Eersterivier  |  Kleinvlei-Bloedbad  |  Skietery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.