Die Wes-Kaapse polisie ondersoek nóg ’n skietery in Kaapstad nadat skieters ook Maandagaand in die informele nedersetting Nyanga losgebrand en vyf mense doodgeskiet het.
Brig. Novela Potelwa, provinsiale woordvoerder, sê ’n taxi-taakspan verbonde aan die provinsiale speurders is besig om die skietery te ondersoek wat Maandagaand by die Nyanga-terminaal plaasgevind het. Daar was ook vroeër die dag ’n skietery by die Kaapstadse stasiedek.
Potelwa sê vier mense is gedurende die skietery by die Nyanga-terminaal doodgeskiet, terwyl drie mense gewond is. Die verdagtes is nog nie geïdentifiseer nie.
“Verslae van die toneel toon dat sewe individue in ’n taxi in Sihlanu-rylaan naby die Nyanga-terminaal gesit het, toe die skieters die taxi genader en verskeie skote afgevuur het.”
Sy sê die skieters het omstreeks 21:30 op die insittendes in die taxi losgebrand.

Die polisie is op die toneel van die skietery Maandag by die Kaapstad-stasie. Foto: Ané van Zyl
Vier mans tussen die ouderdom van 30 en 36 is op die toneel dood, terwyl drie mense na ’n mediese gerief geneem is. ’n Vyfde slagoffer is in die hospitaal dood, terwyl twee ander slagoffers in die hospitaal behandel word.
“Die ondersoekspan is hard aan die werk om vir leidrade te soek. Dit blyk die motief agter die skietery hou met taxi’s verband,” sê Potelwa.
Sy sê die ondersoekspan ondersoek sake van moord en poging tot moord.
Die polisie het intussen hul sigbaarheid by moontlike brandpunte verskerp nadat daar Maandagmiddag ook ’n skietery by die Kaapstadse stasiedek was.
’n 31-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die skietvoorval Maandagmiddag by die taxistaanplek op die Kaapstadse stasiedek waarin sewe mense, insluitend ’n vrou in ’n rolstoel, gewond is.
Onbekende verdagtes het glo op mense op die stasiedek losgebrand voordat hulle in verskillende rigtings gevlug het.
Die polisie was Maandag laatmiddag steeds besig om die toneel te fynkam.