In wat beskou word as ’n deurbraak in die beweerde voorvalle waarin vermeende sindikate sakelui en inwoners van die Kaapse metro terroriseer en afpers, is vier vermeende bendelede in hegtenis geneem.
Dit kom nadat ’n sakeman van Wesbank, Kaapstad, Maandag ’n saak by die polisie in Mfuleni aanhangig gemaak het nadat vier vermeende bendelede hom en sy gesin gedreig en geld geëis het.
Kapt. FC Van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die bende het ’n aansienlike bedrag geld van die klaer geëis, wat toe noodgedwonge die betaling gemaak het.
Volgens Van Wyk het die polisie die klag opgevolg en vier mans in hegtenis geneem.
“Die verdagtes, van die Wesbank-omgewing, sal na verwagting in die landdroshof in Blue Downs op aanklagte van afpersing verskyn.”
Die polisie het ’n spesiale telefoonlyn ingestel omdat al hoe meer sake-eienaars na vore gekom het om te kla oor voorvalle van afpersing en intimidasie.
Van Wyk sê dit raak by die dag duideliker deur mediaberigte hoe ondernemings en inwoners deur bendelede afgepers word.
Die polisie het die publiek versoek om na vore te kom om soortgelyke voorvalle aan te meld.
Mense met inligting kan anoniem bly as hulle voorvalle by die polisie wil aanmeld op 021 466 0011 of deur die polisie se Stopmisdaadnommer op 08600 10111 te kontak.