Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
4 oorval slapende gesin; man ernstig gewond

’n Man is ernstig gewond toe ’n groep gewapende rowers Donderdagoggend op ’n slapende gesin in hul huis in De Wildt, op die grens tussen Noordwes en Gauteng, toegeslaan het.

Vier aanvallers het omstreeks 02:00 toegang gekry tot Robert Feldman (54) en sy gesin se huis.

Juna Niemann, woordvoerder van die gemeenskapsorganisasie De Wildt Helpmekaar (DWHM), sê die aanvallers was  gewapen met onder meer ’n panga en ’n vuurwapen.

Robert Feldman (54) is in ’n kritieke, maar stabiele toestand in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Toegang tot die woning is verkry deur ’n skuifdeur oop te breek,” sê Niemann.

’n Stoeiery het ontstaan tussen Feldman en die vermeende rowers. Een van die aanvallers het glo ’n skoot afgevuur.

“Robert is aangerand en met ’n panga oor die kop geslaan,” sê Niemann.

Sy vrou, Hester, en hul seun, Frikkie (16), is glo herhaaldelik geskop en geslaan. Daarna is hulle met skoenveters vasgebind.

Die direkteur van DWHM, Johan Boullion, is na die toneel ontbied waar hy een van die vermeende rowers in die hoofslaapkamer aangetref het. Die aanvaller het langs Feldman gelê.

“Die aanvaller is in die bors gewond en is dood aan sy beserings. Dit is tans onduidelik wie die noodlottige skoot afgevuur het,” sê Niemann.

Niemann sê volgens René Kriel, Feldman se dogter, is sy nie bewus daarvan dat haar pa ’n vuurwapen besit nie.

Die rowers het te voet gevlug met onder meer skootrekenaars en selfone.

Feldman is per ambulans na die George Mukhari-hospitaal geneem. Hy is in ’n ernstige maar stabiele toestand.

Kapt. Riana van Aarde, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig.

“Aanklagte van huisroof en moord word ondersoek.”

Volgens Van Aarde stel die polisie nog vas hoe en deur wie die vermeende rower doodgeskiet is.

“Niemand is tot dusver in hegtenis geneem in verband met die voorval nie.”

Meer oor:  Noordwes  |  Gauteng  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.