Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
4 verdagtes vasgetrek ná Klapmuts-plaasaanval

“Ek hoop hulle word sommer lekker gevonnis en kry wat hulle toekom.”

So sê Pieter Kriel, ’n boer van Klapmuts, nadat die polisie hom Woensdag laat weet het hulle het vier verdagtes vasgetrek nadat sy dogter Christelle van der Westhuizen verlede week op hul plaas aangeval is.

Kriel, en Van der Westhuizen en haar gesin woon op die plaas Glen Gall op die Grondfonteinpad buite Klapmuts.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, sê die polisie het vier verdagtes van onderskeidelik 20, 24, 25 en 28 jaar oud Woensdagoggend in verband met dié aanval in hegtenis geneem.

Dit blyk dat een van die verdagtes wat aangekeer is, vroeër gehelp het met opknappings aan die Van der Westhuizens se huis, sê Kriel.

“Die gebouery was by my skoonseun-hulle. Hy voel nie lekker daaroor nie. Wie kan ’n mens dan deesdae vertrou? Die verdagtes het geweet waar die kluis is. Hulle wou onmiddellik na die kluis gaan.”

plaasaanval, Klapmuts
Die polisie op die toneel kort na die plaasaanval in Klapmuts naby Stellenbosch. Foto: Jaco Marais

Van der Westhuizen is verlede Dinsdag omstreeks 06:30 in haar plaashuis oorval en met ’n vuurwapen geslaan nadat sy gesê het sy weet nie waar die sleutels van die kluis is nie.

Die polisie het monsters geneem van ’n bloedspoor nadat een van die verdagtes vermoedelik gewond is toe lede van ’n veiligheidsmaatskappy op die aanvallers geskiet het.

Kriel het Woensdagoggend gesê dit gaan onder omstandighede goed met hulle.

“Die aanval was baie traumaties vir my dogter. Sy kry nog nagmerries en die gebeure lê nog vlak. Dit is ’n vertroosting dat hulle gevang is.

“Die aanval gaan nie my dogter onderkry nie. Sy sê sy is ’n gebore plaasmeisie en hulle sal haar nie van die plaas af kry nie.”

Van der Westhuizen wou nie verlede week al teruggaan plaas toe nie, maar het reeds vir berading gegaan.

Van Wyk sê leidrade is opgevolg en een van die verdagtes is op ’n hoenderplaas in hegtenis geneem – ’n 9 mm-vuurwapen is ook by hom gekry.

Die polisie het die verdagte ondervra, waarna hulle die ander drie verdagtes in die Mbekweni-gebied in hegtenis geneem het. Die polisie het beslag gelê op wapens wat moontlik in die plaasaanval gebuit is.

Van Wyk het bevestig dat een van die verdagtes voorheen op die plaas gewerk het en sê hulle sal Vrydag in die landdroshof in die Paarl verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.