Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘43 die naweek in W-Kaap vermoor’ ondanks meer polisie
’n Weermag-helikopter vlieg Maandag oor 35 Eskader by Belhar. Foto: Gallo Images/Brenton Geach

Drie en veertig.

Dit is hoeveel mense volgens die Wes-Kaapse regering die afgelope naweek ondanks verskerpte polisieteenwoordigheid in die Kaapse metropool vermoor is.

Die moorde is almal tussen Vrydagaand en Maandagoggend gepleeg.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Maandag gesê ses van die moorde was in Mfuleni, vier elk in Delft en Samora Machel, en drie in Mitchells Plain.

Daar is ook mense in onder meer Athlone, Atlantis, Bellville, Bellville-Suid, Bishop Lavis en Gugulethu vermoor.

Uit die 43 moorde is 25 mense doodgeskiet en 12 is met ’n skerp voorwerp gesteek.

Winde sê die moorde is gepleeg ondanks die polisie wat beweer dat meer polisielede in woonbuurte op die Kaapse Vlakte ontplooi is.

Hy sê dat die polisie verlede Donderdag met ’n nasionale operasionele en intelligensie-operasie in gebiede soos Philippi, Steenberg en Delft begin het. Dit het gelei tot die inhegtenisneming van 143 mense en daar is ook op vuurwapens en dwelms beslag gelê.

Hoewel Winde die inhegtenisnemings verwelkom het, sê hy dit sal dopgehou word om seker te maak dat die sake reg ondersoek en die mense vervolg word.

Hy sê verder dat hy die afgelope naweek met die misdaadberaad wat in die Paarl gehou is homself daartoe verbind het om met die polisie saam te werk om te verseker dat polisiëring ’n prioriteit in die provinsie is.

Winde sê ook hoewel Bheki Cele, minister van polisie, onder die indruk is dat hulle die dispuut wat hulle met die polisie in die provinsie verklaar het, teruggetrek het, dit steeds ingestel is.

Volgens hom sal die dispuut asook ander verbintenisse wat hulle tydens die misdaadberaad aangegaan het, Woensdag op ’n provinsiale kabinetsvergadering bespreek.

“Ons vergader later vandeesweek met genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof. Ons sal slegs die dispuut terugtrek as ons ’n werkende vennootskap sien met die nodige ooreenkomste om die provinsie ’n veiliger plek te maak.”

Winde meen die naweek se dodetal is ’n aanduiding dat die weermag ontplooi moet word. “Ek doen ’n beroep op minister Cele en pres. Cyril Ramaphosa om die papierwerk so vinnig moontlik af te handel sodat geen meer lewens vernietig word nie.”

Meer oor:  Alan Winde  |  Moord  |  Polisiebeamptes  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.