Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
5 dood in bloedige naweek in PE

Die dodetal in twee van Port Elizabeth se noordelike voorstede het Maandag ná ’n bloedige en gewelddadige naweek tot vyf gestyg.

Skole in die omgewing van Uitbreiding 21 en 31 in Bethelsdorp het leerlinge dadelik huis toe gestuur toe die skote Maandag in dié gebiede begin klap.

Honderde ouers en familielede het inderhaas by skole opgedaag om leerlinge te kom haal.

Die polisie het Maandag klopjagte uitgevoer by talle huise in Uitbreiding 31. Die polisie het dié mans by ’n huis in Blueberrystraat deursoek.Foto’s: Lulama Zenzile

In albei gebiede was ’n groot polisieteenwoordigheid om te verseker die leerlinge is veilig. Hierna is talle klopjagte by berugte huise, waar bende-aktiwiteite plaasvind, uitgevoer.

In die mees onlangse voorval is Sergio Moss (28) Maandag in sy agterplaas in Kolotastraat in Uitbreiding 21 vermoor.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê Moss het in ’n verlate voertuig, wat in die agterplaas van sy ouerhuis in Kolotastraat staan, geslaap.

Volgens Naidu het twee mans Maandag om 05:00 by die agterplaas ingekom terwyl Moss geslaap het.

“Die verdagtes het skote by een van die syvensters ingeskiet. Moss is twee keer in die gesig getref.”

Naidu sê Moss is na verneem word by dwelms betrokke, maar sy familie ontken dat hy by bendes betrokke was.

Moss se skietdood kom nadat nog vier mense oor die naweek in afsonderlike voorvalle in Uitbreiding 21 en 31 doodgeskiet is.

Die naweek se skietery het groot dele van die noordelike gebiede tot stilstand gedwing.

Bekommerde ouers het hul kinders kort ná 09:00 by die Astra Primary School in Bethelsdorp gaan haal.

Drie mans het Sondag om 10:45 in die bosse tussen Uitbreiding 21 en 31 gesit toe skote op hulle geskiet is.

Twee van dié mans kon na die pad toe hardloop, maar het daar inmekaargesak.

Die 21-jarige slagoffer is in die been gewond en die 30-jarige slagoffer is twee keer in die bolyf geskiet. Hulle het oorleef.

’n Derde man, Sergio Botha (30), is in die bos dood nadat hy in die bors en been geskiet is.

Volgens Naidu is die motief vir die aanval nog onbekend, want Botha word nie met enige bende verbind nie.

Terwyl die polisie Sondag om 15:40 patrolliewerk gedoen het, het hulle op ’n groot groep mense in Velociastraat (Uitbreiding 33) afgekom.

Die polisie het Maandagoggend rubberkoeëls in Uitbreiding 31 afgevuur. Twee mense is raakgeskiet.

Dié groep mense het die polisie ingelig oor ’n skietvoorval. Die polisie kon vasstel dat Jacques Roberts (24) aan veelvuldige skietwonde dood is.

Rondom dieselfde tyd het die polisie gereageer op nog ’n skietvoorval in Bassonstraat in Bloemendal.

Hier is die lyk van Virquel Koegana (27) op ’n sypaadjie gevind. Hy is in sy enkel geskiet en het kneusplekke aan sy kop gehad.

Sondag om 17:45 het die polisie gereageer op ’n skietvoorval in Velociastraat, maar terwyl hulle daarheen onderweg was, het mense hulle in Lawrence Erasmus-rylaan voorgekeer.

Die bestuurder van ’n Toyota Tazz het die polisie ingelig dat hulle op pad hospitaal toe is met ’n slagoffer wat in Velociastraat geskiet is.

Jonathan Jacobs (27) is in die skietvoorval dood, het Naidu gesê.

Genl.maj. Thembisile Patekile het Maandag gesê die polisie het op agt vuurwapens beslag gelê en nege mense is in hegtenis geneem.

“Ons probeer vasstel of enige van die vuurwapens met die naweek en ander skietvoorvalle verbind kan word.”

Die polisie het op agt vuurwapens beslag gelê en nege mense is in hegtenis geneem.
Meer oor:  Port Elizabeth  |  Bethelsdorp  |  Sterfgevalle  |  Bendegeweld  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.