Die polisie in Kaapstad het vyf mans in Brackenfell in hegtenis geneem wat in ’n gekaapte motor gery het kort nadat hulle na bewering ’n vrou wat gaan draf het, van haar selfoon beroof het.

Die gekaapte goudkleurige Toyota Etios waarin vyf vermeende selfoondiewe in Brackenfell deur die polisie aangekeer is. Foto: Verskaf
Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê die polisielede het Saterdagoggend patrolliewerk in Frans Conradieweg gedoen toe sekerheidsbeamptes van Bolt-sekuriteit hulle voorgekeer en gesê het daar is ’n verdagte voertuig in die omgewing.
Die polisiebeamptes het die motor, ’n goudkleurige Toyota Etios, op die hoek van Frans Conradie- en Okovangoweg opgemerk en vasgestel dat die motor Vrydag as gekaap in Kraaifontein aangemeld is.
Die motor is voorgekeer en een van die insittendes is in besit van ’n gaspistool gekry wat soos ’n 9 mm-pistool lyk. Talle selfone is ook in die motor gekry.

Die gaspistool, wat soos ’n 9 mm-pistool lyk, is in die verdagte verdagtes se besit gevind. Foto: Verskaf
Terwyl die polisie die verdagtes by die Brackenfell-polisiekantoor in aanhouding geplaas het, het ’n 42-jarige vrou van die woonbuurt Sonkring in die omgewing opgedaag om ’n klag in te dien dat sy gaan draf en mans haar met ’n vuurwapen gedreig en van haar selfoon beroof het. Sy het haar foon uitgewys as een van dié wat by die vyf mans gekry is.
Die verdagtes, van tussen 22 en 30 jaar oud, sal Maandag in die landdroshof in Blue Downs verskyn op aanklag van kaping, die besit van ’n gekaapte voertuig, die besit van ammunisie asook ’n nagemaakte vuurwapen, die besit van gesteelde goedere asook gewapende roof.
In ’n ander voorval het polisiebeamptes Saterdagmiddag ’n 27-jarige man in die Harare-woonbuurt aangekeer wat in besit van ’n gekaapte Volkswagen Polo was, sê Traut.
Twee ongelisensieerde vuurwapens – ’n 9 mm-pistool en ’n .38 Special-rewolwer – is in sy besit gevind. Die man verskyn Maandag in die landdroshof in Khayelitsha.