SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Misdaad
5 koeëldoppies op toneel waar polisiehoë sterf

Vyf koeëldoppies is deur ’n span speurders van die Wes-Kaapse bende-eenheid en forensiese lede opgetel waar lt.kol. Andre Kay (52) Donderdag doodgeskiet is.

Kay, ’n polisielid verbonde aan die polisie se eenheid wat die bedrywe vir drank, vuurwapens en tweedehandse goedere reguleer, is Donderdagoggend kort ná 06:30 in sy motor in die oprit van sy huis in 11de Straat in Bishop Lavis op die Kaapse Vlakte deur ’n onbekende man doodgeskiet.

Daar is vroeër berig dat hy op pad gimnasium toe was. Hy was met verlof.

Lt.kol. Andre Kay by sy huis in Bishop Lavis. Foto: Facebook/Andre Kay

Bronne het gesê hy is vier keer in sy bolyf raakgeskiet. Hy is op die toneel dood.

Sy vermeende moordenaar is glo Donderdagoggend kort ná 06:30 op die hoek van Maitland- en 11de Straat in Bishop Lavis deur ’n wit Volkswagen Golf afgelaai.

Ná die skietery het die verdagte glo oor die Bishop Lavis-spoorwegstasie na Clarke Estate, Elsiesrivier, gevlug waar hy glo opgelaai is deur ’n grys voertuig wat daar op hom gewag het.

Die polisie ondersoek nou die moontlikheid dat Kay se moord onder meer verband kan hou met ’n boete wat hy ’n sjebien-eienaar van Elsiesrivier onlangs opgelê het. Volgens bronne beloop die boete sowat R500 000.

Die polisie op die toneel waar lt.kol. Andre Kay Donderdagoggend in sy motor doodgeskiet is. Foto: Peter Abrahams/Son

Die Wes-Kaap se waarnemende polisiehoof, lt.kol. Sindile Mfazi, het sy medelye teenoor Kay se familie uitgespreek en hom beskryf as ’n toegewyde polisiebeampte.

Brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê die bende-eenheid ondersoek die saak en het mense met inligting oor die voorval gevra om hule op die tolvry-nommer 0800 664 264 te bel.

Alan Winde, premier, het ook Donderdag sy medelye met die familie uitgespreek. Hy het gesê hy was kwaad en seergemaak toe hy van Kay se dood hoor.

“Kwaad omdat dit nog ’n sinlose en gewelddadige moord is wat die lewe van ’n Wes-Kaapse inwoner kortgeknip het. Kwaad omdat die provinsie nog ’n toegewyde polisiebeampte, wat gewerk het om die provinsie veiliger te maak, verloor het.”

Die polisie se forensiese eenheid fynkam lt.kol. Andre Kay se voertuig vir leidrade. Foto: Peter Abrahams/Son
Lt.kol. Andre Kay is in die blou voertuig hier voor sy huis doodgeskiet. Foto: Verskaf

Winde het gesê dis is onaanvaarbaar dat wetsgehoorsame burgers onder skoot is terwyl misdadigers in die strate rondloop sonder enige vrees.

“Vandag treur lt.kol. Kay se ma oor haar seun. Te veel families in die provinsie moes al weens misdaad van hul geliefdes afskeid neem. Een moord is een moord te veel,” het Winde gesê.

Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, het die moord ten sterkste veroordeel. Hy het gesê ’n aanval op die polisie is ’n aanval op die staat.

Meer oor:  Bishop Lavis  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.