Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
5 Mosambiekers voor oor diefstal van motorfietse

Die polisie in Kroonstad het vyf lede van ’n Mosambiekse sindikaat in hegtenis geneem wat na bewering motorfietse en vierwielmotorfietse steel en stuk-stuk oor die grens neem.

Die geel Suzuki RMZ-veldmotorfiets wat op Dinsdag 12 Maart in Henry Dyterstraat in Kroonstad gesteel is. Foto: Kroonnuus

Die vyf word reeds met minstens tien voorvalle in Kroonstad, Welkom en ander dorpe in die Vrystaat verbind. Hulle is vroeër vandeesweek in hegtenis geneem nadat die polisie se misdaadintelligensie-eenheid inligting opgevolg het.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê die polisie het ’n Toyota Hilux-bakkie geïdentifiseer en op die N1-snelweg agtervolg. Die bakkie is tussen Kroonstad en Koppies van die pad af getrek en deursoek.

Volgens Thakeng is dele van ’n motorfiets en twee vierwielmotorfietse sowel as toerusting wat gebruik word om motorfietse te stroop agterop die bakkie gevind.

Die vyf insittendes kon nie die nodige dokumentasie toon vir die motorfietsdele nie en is in hegtenis geneem.

Volgens Thakeng word die mans verbind met minstens tien voorvalle van diefstal van motorfietse en vierwielmotorfietse wat sedert 26 Februarie vanjaar in die dorpe voorgekom het.

Die mans het na bewering huiseienaars se honde vergiftig en by motorhuise ingebreek om by die motorfietse uit te kom.

Die fietse word glo uitmekaargehaal en in stukke oor die grens na Mosambiek vervoer.

Die gemeenskapskoerant Kroonnuus het vroeër berig dat die eerste van hierdie voorvalle op Dinsdag 26 Februarie plaasgevind het toe ’n Sym Shark-bromponie, met die registrasienommer DBW265FS, by die departement van korrektiewe dienste gesteel is.

Die inhegtenisnemings word as 'n deurbraak beskryf.

Daarna is ’n geel Suzuki RMZ-veldmotorfiets op Dinsdag 12 Maart in Henry Dyterstraat gesteel.

’n Swart-en-oranje Big Boy 200cc-motorfiets is op Dinsdag 26 Maart in Barnardstraat gesteel. Twee honde op die perseel is vergiftig.

Die volgende voorval was op Woensdag 27 Maart toe ’n blou-en-wit vierwielaangedrewe Suzuki-motorfiets uit Derksenstraat, Suidrand, gesteel is. Die bure se honde is ook in die voorval vergiftig.

Op Saterdag 30 Maart is ’n rooi-en-wit Honda XR 125cc-veldmotorfiets by die Hoërskool Kroonstad gesteel.

Dié fiets was nog nuut en het geen nommerplate nie.

Die laaste voorval was op Woensdag 3 April toe ’n 125cc-veldmotorfiets, met wit-en-swart plakkers, uit Duursemastraat gesteel is.

Al dié voorvalle was slegs in Kroonstad.

Die mans het reeds in die hof verskyn en hulle verhoor is tot die einde van die maand uitgestel.

Kol. Morné de Wet, waarnemende hoof van die Kroonstad-polisiëringsgebied, het lede van die misdaadintelligensie-eenheid sowel as die Kroonstad-polisiebeamptes geloof vir hul goeie werk om die mans aan te keer.

Hy het die inhegtenisnemings as ’n deurbraak beskryf.

Meer oor:  Kroonstad  |  Motorfietse  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.