Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
5 plaasaanvalle in 48 uur aangemeld

Minstens vyf plaasaanvalle is die afgelope twee dae aangemeld.

Volgens Ian Cameron, hoof van AfriForum se gemeenskapsveiligheid, is daar soms ’n toename in plaasaanvalle rondom langnaweke.

“Maar wat nou vreemd is, is dat dit baie stil was tydens die sittings oor grondonteiening en toe dit verby is, kom hierdie skielike toename.”

Henry Geldenhuys, TLU SA se adjunkpresident en voorsitter van die organisasie se nasionale veiligheidskomitee, is egter versigtig om die onlangse plaasaanvalle as ’n skielike toename te beskryf.

“Ons sien elke naweek aanvalle en volgens ons syfers is daar elke dag ’n plaasaanval en elke sesde dag ’n plaasmoord.”

Volgens TLU SA se syfers was daar vanjaar al 244 aanvalle en 38 moorde.

“Die grondkwessie het beslis vir ons nuwe moeilikheid gebring. ’n Toename in grondbesettings het ’n regstreekse invloed op veiligheid,” sê Geldenhuys.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, en Siphiwe Kunene, leier van SA United Against Crime, in Thokozapark in Soweto. Foto: Deaan Vivier

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die inkonsekwentheid waarmee polisiekantore onwettige grondbesetting hanteer.

“By een polisiekantoor sal lede dadelik optree, terwyl dié by ’n ander hul skouers sal ophaal. Daar is nie reëlmaat in die manier waarop die kwessie hanteer word nie.”

Hy het ’n beroep op mense gedoen om betrokke te raak by die beveiliging van plase.

“Jy kan die boere nie alleen los nie, want jy maak die deur oop vir ’n spul ander probleme.”

Aanvalle:

* Werkers op die plaas Honingsnest, noord van Pretoria, is Dinsdagnag in hul woonkwartiere aangeval en gemartel om inligting oor die boer se huis te kry.

’n Vrou is ten aanskoue van haar medewerkers verkrag. Sy is nog in die hospitaal.

Volgens Wayne Alberts, op wie se plaas die aanval was, was daar duidelike tekens dat die rowers die huis voor die aanval dopgehou het.

Hulle het ’n opening in die heining geknip en die werkers omstreeks 02:00 oorval.

Een van die rowers het ’n pistool gehad, maar volgens Alberts is die werkers met hamers en boutsnyers aangerand.

Veral een van die mans is erg geslaan en geskop, en hy is gedwing om te kyk hoe die vrou verkrag word.

Die aanvallers wou deurentyd by die werkers weet waar “die mense van die huis” se sleutels en kluis is.

Die werkers het Woensdag berading gekry.

* In die Brits-distrik in Noordwes is ’n bejaarde boer Dinsdagnag met sy eie vuurwapen gewond.

Gerhard Badenhorst (77) en sy vrou, Beatrice (76), is omstreeks 02:00 deur ’n rower in hul huis oorval.

Die gewapende rower is op die toneel dood en ’n onbekende aantal rowers het gevlug.

Die rower was glo met ’n mes gewapen en het die kluissleutels geëis. Badenhorst het glo sy rewolwer by hom gehad, maar die rower het dit in ’n worsteling by hom afgeneem en hom daarmee geskiet voordat hy op die vlug geslaan het. Die aanvaller het ook drie selfone en persoonlike dokumente van die Badenhorst-egpaar gebuit.

Badenhorst is in ’n plaaslike hospitaal behandel en dieselfde dag ontslaan. ’n Beloning van R10 000 word aangebied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van die aanvaller.

* ’n Aanvaller is Woensdag naby Lichtenburg in Noordwes doodgeskiet nadat hy en sy makker op heter daad deur die 65-plaaseienaar betrap is.

Die boer het glo Woensdag omstreeks 20:30 gehoor hoe by sy huis ingebreek word. Hy het gaan ondersoek instel en een van die mans in die huis se gang gekry.

Na bewering het ’n onderonsie ontstaan en is skote geskiet. Die gewapende rower is op die toneel dood en ’n onbekende aantal rowers het gevlug.

* Woensdagaand het vier mense, onder wie vermoedelik ’n vrou, werkers op ’n plaas by Vastfontein naby Hammanskraal in Gauteng aangeval.

Twee werkers is geskiet en ’n vrou is glo verkrag. Die buurplaas se honde is voor die aanval van kant gemaak.

Cameron sê dit is moontlik dieselfde mense wat Dinsdagaand die Honingsnest-werkers aangeval het.

* In ’n aanval buite Mbombela, Mpumalanga, is ’n 45-jarige man se gesig Woensdagaand byna verbrysel toe hy met ’n stomp voorwerp aangeval is.

Hy was volgens berigte alleen tuis saam met sy twee jong kinders. Net sy beursie is glo gesteel.

Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice (BCJ) in Mbombela sê die man se vrou het op haar bebloede man afgekom. Hy was nog by sy bewussyn en is na die Mediclinic Nelspruit gebring.

Meer oor:  Ian Cameron  |  48 Uur  |  Plaasaanvalle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.