Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
5 transitorowers by polisielid se huis doodgeskiet
Een van die mense wat Woensdag deur die polisie in hegtenis geneem is. Foto: Verskaf

Vyf transitorowers is Woensdagoggend doodgeskiet kort nadat hulle op ’n G4S-geldwa in Dawn Park, Boksburg, toegeslaan en weggekom het met ’n groot bedrag geld.

Kol. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, sê die rowers is by ’n huis in Klippoortjie doodgeskiet nadat intelligensiedienste die polisie ná die rooftog daarheen gelei het. Die huis behoort aan ’n polisielid.

“Toe die polisie daar aankom, het ’n skietery uitgebreek en die polisie het vyf verdagtes doodgeskiet,” sê sy.

Een van die mans is in die hospitaal en nog een is in hegtenis geneem.

Bheki Cele, minister van polisie, het Woensdagmiddag die toneel besoek en het bevestig dat die huis aan ’n polisielid behoort. Dié lid is ook in hegtenis geneem.

Cele het gesê die polisie het geweet van die beplande aanval op die geldwa en kon dus vinnig optree.

Hy het sy kommer uitgespreek oor transitorooftogte wat baie toeneem, maar hy glo die polisie beweeg in die regte rigting om die skuldiges vas te trek.

Hy het gesê van die verdagtes wat Woensdag doodgeskiet is, is bekend aan die polisie weens hul transito-misdade.

“Ons is al langer as drie jaar lank op hul spoor,” het hy gesê.

Cele het ’n beroep op mense gedoen “om hul oë oop te hou” en om verdagte aktiwiteite aan te meld.

“Jou buurman gaan nie net sommer op ’n dag met ’n nuwe BMW ry nie,” het hy aan die mense van Klippoortjie gesê.

Die transitorowers het Woensdagoggend omstreeks 08:30 in Galahad-rylaan, Dawn Park, op die G4S-geldwa toegeslaan.

Hulle het glo die voertuig met plofstof oopgeblaas en met ’n onbekende hoeveelheid geld van die toneel af gevlug.

Die omgewing waar die polisielede Woensdag vyf transitorowers doodgeskiet het nadat ’n skietgeveg uitgebreek het. Foto: Verskaf
Bheki Cele, minister van polisie. Foto: Verskaf
Bheki Cele, minister van polisie, Woensdagmiddag op die toneel waar vyf vermeende transitorowers doodgeskiet is. Foto: Verskaf

Muridili sê toe die polisie by die huis in Klippoortjie kom, is van die gesteelde geld teruggevind, asook vier vuurwapens wat moontlik in die rooftog gebruik is.

“Drie vermoedelik gesteelde voertuie is ook gevind,” sê sy.

Cele het Woensdagmiddag gesê die polisie is steeds op die spoor van ander rowers wat betrokke kon wees.

Die polisie ondersoek ’n saak van transitoroof.

Intussen het G4S in ’n verklaring bevestig een van sy geldwaens is Woensdagoggend beroof.

Luidens die verklaring is geeneen van G4S se veiligheidswagte gedurende die aanval beseer nie.

“Hulle kry wel traumabehandeling,” lui die verklaring.

Renso Smit, besturende direkteur van G4S, het die polisie bedank vir die spoedige optrede.

“Ons is bekommerd oor die toename in transitorooftogte. Die aanvalle raak al hoe meer gewelddadig en dit hou groot risiko in vir ons werknemers,” sê Smit in ’n verklaring.


Meer oor:  Bheki Cele  |  Dawn Park  |  Transitorowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.