Vyf polisiebeamptes, wat glo ’n man in Oktober aangerand het, is Woensdag in Vredenburg in die Wes-Kaap gearresteer. Die onafhanklike polisie-ondersoekdirektoraat (Opod) het Woensdag luidens ’n verklaring gesê die 25-jarige Jason Heyns van Hopland in Vredenburg is na bewering op 23 Oktober tydens sy inhegtenisneming deur die vyf polisiebeamptes aangerand.
“Heyns is weens die ernstige aard van sy beserings van die Vredenburg-hospitaal na die Groote Schuur-hospitaal se waakeenheid oorgeplaas. Hy is sewe dae later in die hospitaal oorlede,” het Ndileka Cola, Opod-woordvoerder, gesê.
Volgens Cola het die polisie nie die voorval aangemeld nie en die familie van die oorledene het op 3 November ’n klag aanhangig gemaak. Ná ’n uitgebreide ondersoek deur Opod is die polisiebeamptes Woensdag in hegtenis geneem.
“Hulle is tans in aanhouding en sal Donderdag in die landdroshof in Vredenburg verskyn op aanklag van moord,” het Cola gesê.