Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
5 vas ná betogings in Ennerdale, Freedom Park

Vyf mense is Maandag vir openbare geweld aangekeer tydens gewelddadige betogings in Ennerdale en Freedom Park in die suide van Johannesburg.

“Die verdagtes sal na verwagting Woensdag in die landdroshof in Soweto verskyn,” sê kapt. Kay Makhubela, polisiewoordvoerder.

Freedom Park in die suide van Johannesburg Maandag gedurende die betoging wat daar plaasgevind het. Foto: Verskaf

’n Mobiele klaskamer van die Oakdale Secondary School in Ennerdale is in die onrus aan die brand gesteek.

Ontstoke inwoners het Maandag ook strate in die omgewing van die skool afgesper.

“Die polisie en metropolisie het kragte saamgesnoer om kalmte in die gebied te herstel. Klippe, bande en rommel is intussen van die hoofroetes af verwyder,” het Makhubela gesê. Hy het Dinsdag die situasie in die gebied as “gespanne maar kalm” beskryf.

“Ons is ontevrede omdat die Southern Farms-behuisingsprojek al so lank sloer,” het Keith Duarte, gemeenskapsleier, aan Netwerk24 gesê.

“Die mense van die omgewing word deur die Stad Johannesburg in sy beplanning vir dié megastad-projek van huise en woonstelle waarby Diepkloof‚ Freedom Park‚ Eldorado Park en Naturena sal baat vind, uitgesluit.

“Hoe langer dit neem om dié projek af te handel, hoe meer mense word negatief geraak en kan daar nie vooruitgang gemaak word op ekonomiese gebied nie,” het Duarte gesê.

Volgens Ranleigh Delport, voorsitter van die Gauteng Shutdown-komitee in Ennerdale, het die inwoners grondige bekommernisse. “Mense is raadop oor al die leë beloftes wat net nie tot uitvoering kom nie, en daardie frustrasie borrel nou oor,” meen hy.

Inwoners van Freedom Park versper ’n pad in dié gebied. Foto: Verskaf

Michael Sun, Johannesburgse burgemeesterskomiteelid, het gesê dat hoewel inwoners die reg het om te betoog, dit vreedsaam moet geskied. “Ek kan nie die logika agter die geweld en die verwoesting van infrastruktuur begryp nie. Alles word in hierdie betogings afgebreek en verbrand en dan moet die arme belastingbetaler se geld gebruik word om alles weer op te bou en te herstel. Dit maak net nie sin nie,” sê Sun.

“Ek weet dat daar ’n reuse-agterstand is wat behuising in die stad betref. Ongelukkig is daar geen vinnige oplossing vir dié kwessie nie. Met die verkiesing om die draai gebruik mense die betogings om die politici se aandag op die kwessies, waarmee hulle daagliks in hul gemeenskappe saamleef, te vestig,” sê hy.

Thabo Maisela, direkteur van behuising vir die Johannesburg-metro, is verskeie kere vir kommentaar genader, maar het teen publikasie hiervan nog nie op die navrae reageer nie.

Meer oor:  Michael Sun  |  Ennerdale  |  Johannesburg  |  Betogings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.