Vyf verdagtes is in hegtenis geneem nadat ’n vierjarige seuntjie Maandag in Rylands, Athlone, deur ’n dwaalkoeël getref is.
Kapt. FC van Wyk, polisiewoordvoerder, het Dinsdag gesê die mans, tussen die ouderdom van 25 en 27, is Maandagmiddag in hegtenis geneem. Hulle verskyn Woensdag in die landdroshof in Athlone op ’n aanklag van moord nadat die kind in die hospitaal dood is.
Van Wyk sê die kind is Maandag omstreeks 10:15 deur ’n dwaalkoeël in die kop getref in die Pook se Bos- informele nedersetting.
Hy sê ’n groep mans in ’n wit voertuig het skote afgevuur in die rigting van die hut waar die kind was. Die kind is na ’n nabygeleë hospitaal geneem, waar hy later die oggend dood is.
Van Wyk sê die polisie was Maandag op die toneel om die voorval te ondersoek.
“Reëlings vir berading word vir die familie getref,” sê Van Wyk.
Albert Fritz, LUR vir maatskaplike ontwikkeling, sê in ’n mediaverklaring sy departement het ’n maatskaplike werker aangestel om die familie by te staan.
“As u deur die voorval geraak is en psigososiale ondersteuning benodig, kontak asseblief die plaaslike departement van sosiale ontwikkeling of skakel die landlynnommer 0800 220 250.”
Hy het bygevoeg dat geweld, veral teen kinders, geen plek in die samelewing het nie.
“Ons as regering, samelewing, godsdiensleiers en gesinne speel elk ’n rol in die uitroeiing van geweld. Ek doen ’n beroep op ouers en gemeenskappe om ekstra waaksaam te wees. Veral met betrekking tot die veiligheid van kinders. Ons moet beter saamwerk as ons jong mense veilig moet hou,” sê hy.