Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
5 vas oor lyke van polisielede in uitgebrande voertuig

’n Bloedspoor, mes en die rangtekens van twee vermiste polisielede het gelei tot die ontdekking van hul lyke in ’n uitgebrande polisievoertuig in Noordwes.

Vyf mense is vroeg Woensdagoggend in hegtenis geneem weens die moord op konst. Simon Ngakaemang Ntsekeletsa (50) en sers. Mojalefa Horatius Molete (42), wat by die Mareetsane-polisiekantoor gestasioneer was. Hoewel die polisie aanvanklik gesê het die identiteit van die uitgebrande lyke moet met DNS-toetse bevestig word, het kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder, Woensdag gesê dit lyk nou na ’n uitgemaakte saak dat die lyke dié van die genoemde twee lede is.

Volgens haar is die vyf verdagtes in die Logageng-nedersetting sowat 85 km van Maaretsane vasgetrek tydens ’n gesamentlike optrede deur die Valke, speurders en ander polisielede.

Ntsekeletsa en Molete het vermis geraak nadat hulle Maandagaand tydens ’n patrollierit op ’n voertuig met vermoedelik gesteelde bokke afgekom het.

“Die lede het die voorval by hul bevelvoerder aangemeld en genoem dat hulle die verdagte se voertuig binnekort na die polisiekantoor sou bring,” sê Rikhotso.

“Sowat ’n uur later het hulle laat weet hulle is naby die polisiekantoor (in Mareetsane), maar hulle het nooit daar opgedaag nie. Hulle kon nie op hul selfone of die polisieradio bereik word nie.”

Daar is dadelik met ’n soektog na hulle begin. Volgens Rikhotso het mense in die gemeenskap die polisie Dinsdag laat weet daar is bloedmerke in die pad na die polisiekantoor.

“Polisielede is daarheen en het ’n mes en een van die oorledenes se rangtekens gevind. Die ander lid se rangtekens is naby die Mareetsane-pad gevind. Die uitgebrande polisievoertuig met die lede se lyke is kort daarna gevind.”

polisiemoorde
Die uitgebrande polisievoertuig. Foto: Verskaf

Rikhotso sê die polisie het sedertdien alle leidrade opgevolg en onverpoos gewerk totdat hulle die vyf verdagtes gevind en in hegtenis geneem het.

“’n 9 mm-pistool wat na bewering by die vermoorde lede gesteel is, is glo ook by hulle gevind. Daar is beslag gelê op ’n hamer, klere met vermoedelik bloedvlekke daaraan en ’n voertuig.”

Lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, het die betrokke polisie-eenhede geloof vir die vinnige arrestasies en die terugvind van die polisiewapen. Hy het sy meegevoel met die lede se families betuig.

“Ons hoop die inhegtenisnemings is vir hulle ’n troos. Ons hoop is nou op ’n suksesvolle vervolging gerig. ’n Aanval op die polisie is ’n aanval op die staat. Ons sal daarom geen steen onaangeroer laat nie en alle beskikbare hulpbronne gebruik om seker te maak die volle mag van die gereg staar diegene in die gesig wat sulke dade teenoor beamptes in blou pleeg.”

• Die verdagtes verskyn Vrydag in die landdroshof in Ganyesa op aanklagte van moord, kwaadwillige saakbeskadiging en die besit van ’n gesteelde vuurwapen.

Meer oor:  Polisiemoord  |  Inhegtenisnemings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.