Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
500 TV’s op die N1 geplunder

’n Veiligheidsmaatskappy was reg om ’n vrag televisiestelle te beveilig wat die afgelope week by De Doorns in die Wes-Kaap geplunder is, maar is deur die polisie verbied om in te gryp. Volgens die polisie op die toneel moes eers gewag word op lede van die eenheid vir openbare orde (Pops).

‘Nou kan die premies styg.’

Die polisie het Saterdag na nog 446 televisiestelle gesoek wat Donderdag deur betogende plaaswerkers uit ’n vragmotor gesteel is.

Volgens Amica Buonadonna, ’n woordvoerder van die vervoermaatskappy Buonadonna, wat 500 televisies verloor het, het die polisie hulle Vrydag laat weet 54 stelle is teruggevind.

Die polisie het sedert Donderdag op huisies langs die N1, en veral in die Stofland-buurt toegeslaan. Televisies is van ’n huis se dak, uit voertuie en onder beddens uitgehaal.

...ook fietse...

’n Betogende groep het Donderdag twee verbygaande vragmotors tot stilstand gedwing deur klippe in die pad te pak. Daarna het hulle die Buonadonna-vragmotor se seile oopgesny.

Op ’n selfoonvideo wat daarna wyd op sosiale media gedeel is, kan gesien word hoe hulle soos ’n swerm aasvoëls op die vragmotor toesak, die honderde televisies gryp en tussen die huise verdwyn.

’n Tweede vragmotor met ’n vrag bier is ook gestroop.

...en drank...

Die verkeersowerhede het die N1-snelweg ’n tyd lank gesluit en verkeer deur die dorp herlei.

Buonadonna sê ’n veiligheidsmaatskappy, Capital Air Recovery, wat hulle aangestel het om die vrag te beveilig, was baie gou op die toneel, maar is deur die polisie verhoed om op te tree.

Buonadonna sê dit was baie hartseer om toe te kyk hoe die mense die vrag wegdra.

“Ja, die vrag is verseker, maar nou kan die premies styg. Die trok se battery en ander elektroniese toerusting is ook gesteel. Ons moes dit eers vervang voordat ons die trok kon verskuif. Ek praat hier van meer as R100 000 se skade en die vrag se waarde is nie eens bygetel nie.”

...en nog TV’s.

’n Polisiewoordvoerder, sers. Noloyiso Rwexana, het gister gesê sewe mense – ’n vrou en ses mans – is op aanklag van diefstal in hegtenis geneem.

In ’n onverwante voorval by Worces­ter het verbygangers en motoriste Donderdag ’n vragmotor wat op die N1 omgeslaan het se vrag gestroop.

Afzal Hamed van die belangegroep SA Long-distance Truckers sê die veiligheid van vragmotorbestuurders het die laaste ruk agteruitgegaan. “Die hooffaktor is betogings en diefstal. Die bestuurders word uit die voertuig gedwing en in baie gevalle aangerand. Die polisie doen weinig om hulp te verleen. Die saak word gerapporteer, en daar is videomateriaal, maar steeds word niks gedoen nie.”

Bonginkosi Madikizela, Wes-Kaapse LUR vir vervoer en openbare werke, sê hy het met die vragmotorvervoerbedryf vergader. Provinsiale verkeersdienste het “verhoogde geïntegreerde operasies” by brandpunte gereël.

Adv. Albert Fritz, LUR vir gemeenskapsveiligheid, sê aanvalle op vragmotors laat die plaaslike ekonomie mank, bedreig werksgeleenthede en vestig ’n gevoel van onsekerheid.

  • Satedagoggend het ’n vragmotor met ’n besending kaas op die N1 by De Doorns omgeslaan. Sy vrag is geplunder.
Meer oor:  Worcester  |  De Doorns  |  Plundering  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.