Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
55 misdade van apartheid word nou ondersoek

Altesaam 55 sake van apartheidsmisdade wat voor die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) gedien het, word ondersoek.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, sê die ondersoeke is reeds op 25 Mei verwys na die direkteur van openbare vervolging in die streke waar die beweerde misdade gepleeg is.

Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste. Foto: News24

’n Spesialiseenheid sal volgens Lamola gestig word om dié misdade te ondersoek en die Valke sal by die ondersoeke betrokke wees.

Volgens Lamola is daar nog 59 sake wat ondersoek gaan word.

Hy het dié inligting verskaf in reaksie op skriftelike vrae van dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Piet Croucamp van die Noordwes-Universiteit sê daar is eenvoudig nie geld vir die vervolgings nie. Die nasionale vervolgingsgesag se begroting is reeds besnoei en daar is nou ander prioriteite.

Hy sê daar is destyds onderneem om vervolgings te doen.

“In die ANC self is daar egter nie veel geesdrif vir die vervolgings nie; dit kom van ander organisasies en individue.”

Croucamp sê die meeste mense wat betrokke was, is al oud of dood en dat die getuienis wat voor die WVK gelewer is, nie gebruik kan word nie.

“Nie een van Suid-Afrika se presidente ná 1994 het belang gestel om mense te vervolg nie.”

Oudpres. Nelson Mandela het die bal aan die rol gesit vir die idee dat daar nie vergelding moet wees nie, sê hy.

Groenewald sê dié ondersoeke sal op ’n heksejag neerkom.

“Vae kriteria soos openbare belang en die versoeke van familielede gaan gebruik word om te bepaal of sake ondersoek moet word. Dit is nie gegrond op regsbeginsels nie.”

Hy sê daar is ook aan die ANC se kant mense wat hulle aan misdrywe skuldig gemaak het en indien beweerde apartheidsmisdade ondersoek word, moet dít ook ondersoek word.

Dit maak die versoeningsideaal van die WVK ongedaan en is nie in die belang van nasiebou nie, sê hy.

Prof. Theo Neethling van die departement politieke wetenskap en regeerkunde aan die Universiteit van die Vrystaat, sê om mense nou te vervolg weens apartheidsmisdade, is ’n omstrede en komplekse kwessie.

Aan die ander kant is daar mense wat glo dié vervolgings is juis nodig om die WVK se werk tot ’n slotsom te bring.

“Daar is mense wat glo dat as die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping huidige korrupsie ondersoek, daar ook na misdade van voor 1994 gekyk moet word.”

Die mense glo daar moet regverdigheid wees ten opsigte van onlangse oortredings en hoe misdade uit die verlede hanteer word.

Neethling sê daar sal botsende menings hieroor wees en dat sommige mense sal glo ou wonde word onnodig oopgekrap.

“Aan die ander kant is daar mense wat glo dié vervolgings is juis nodig om die WVK se werk tot ’n slotsom te bring,” sê hy.

Die meeste lede van die ou veiligheidsmagte is reeds bejaard en kan al 80 jaar of ouer wees en ook dit sal emosies opjaag.

Die reg moet konsekwent toegepas word en as oudpres. Jacob Zuma tot tronkstraf gevonnis word, kan ander mense van dieselfde ouderdom ook tronkstraf uitdien.

Hy sê aan die ander kant is wandade deur lede van Umkhonto we Sizwe (die ANC se militêre vleuel) gepleeg en in die belang van ewewigtigheid en konsekwentheid sal mense wil hê ook dit moet ondersoek word.

Meer oor:  Ronald Lamola  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.