Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
7-jarige veg om sy lewe ná bendeskietery in Manenberg

’n Sewejarige seun van Manenberg veg om sy lewe in die Rooi Kruis-kinderhospitaal nadat bendes Maandagoggend 18 skote op die Wendyhuis gevuur het waarin hy, sy ouers en sibbe in Red River-straat bly.

Taufiq Johnson is in sy rug gewond waar hy en sy ouer suster op hul bed in die Wendyhuis geslaap het.

Dokters het ’n noodoperasie van meer as vier uur op hom uitgevoer.

Sy pa, Gershwen Johnson (33), sê die koeël wat Taufiq getref het, sit nog in sy nier vas.

“My vrou het my laat weet die dokters het gesê hulle kon nie die koeël verwyder nie, want hulle is bang dat dit sy nier kan beskadig.”

Taufiq Johnson (7) veg in die Rooi Kruis-kinderhospitaal om sy lewe nadat onbekende skieters 18 skote op die Wendyhuis waar hy saam met sy ouers en sibbe bly, afgevuur het. Foto: Verskaf

Hy sê dat sy vrou, Shafieka (39), by die hospitaal is. “Ek wil so graag hospitaal toe gaan, maar weet nie of hulle my gaan toelaat nie.”

Johnson sê dit was kort ná middernag toe hulle van die skote wakker geword het. Hy, Shafieka, Taufiq, sy 16-jarige dogter en hul jongste seun het almal geslaap.

“Ons blyplek is vol gate geskiet.”

Johnson sê dat sy dogter erg getraumatiseerd is en dat sy nog nie weer kon slaap nie.

“Ek weet nie hoekom nie, want ek is beslis nie by bendes betrokke nie.”

Bronne in Manenberg het ook bevestig dat Johnson nie by bendes betrokke is nie.

Hulle sê die skietvoorval waarin Taufiq gewond is, was Maandagoggend nie die enigste geval nie.

Daar was volgens die bronne nog drie ander voorvalle waarin drie ander mense gewond is.

Die bed waar Taufiq Johnson en sy ouer suster geslaap het toe onbekende skieters 18 skote op hul Wendyhuis afgevuur het. Foto: Verskaf

Bronne sê tussen 09:00 en 10:00 is drie mense – ’n 65-jarige man in Olgahof, ’n tienjarige meisie in Madgehof en nog ’n persoon in Pecosweg – in skietvoorvalle tussen strydende bendes, die Jesters en Americans, gewond.

Die skietvoorvalle kom nadat vyf moorde van Vrydagaand tot Sondag plaasgevind het.

Intussen het inwoners van Manenberg gesê die polisie reageer nie op hul hulpkrete nie. Hulle beweer dat geen van die landlynnommers daar werk nie.

Netwerk24 het die polisiekantoor se nommers gebel en dit het net gelui.

Daar is ook gesê dat hulle vier tot ses uur lank wag voor enige polisievoertuie op enige oproepe reageer. “Ons sal hulle sien nadat hier lyke lê. Maar hulle worrie mos nie, dis mos nie hulle mense nie,” is van die beweringe wat gemaak is.

Een van die moorde die afgelope naweek is van ’n 31-jarige veiligheidswag wat tydens ’n gewapende rooftog in Duinefonteinweg, Manenberg, vermoor is. Sy kollega, ’n 39-jarige veiligheidswag, is gewond.

Die veiligheidswag is vermoor nadat die voertuig wat hom en ander wagte moes huis toe neem op pad in Duinefonteinweg onklaar geraak het.

Gewapende rowers het op die voertuig toegeslaan en die veiligheidswagte se selfone geëis. Hulle het glo op die wagte in die voertuig geskiet. Die 31-jarige wag is noodlottig gewond en die ander wag in die hand.

Niemand is nog hiervoor in hegtenis geneem nie.

Intussen het brig. Novela Potelwa, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, gesê dat bykomende polisielede in Manenberg en Lavender Hill ontplooi is ná sporadiese skietvoorvalle daar die afgelope naweek.

Die koeëlgate in die Wendyhuis.Foto: Verskaf

Potelwa sê polisiebeamptes verbonde aan verskillende eenhede, insluitende die plaaslike polisiekantoor en lede van die teenbende-eenheid, is besig met klopjagte op soek na die mense agter die skietvoorvalle waarin onder andere die twee kinders – Taufiq en die 10-jarige meisie – gewond is. Sy sê dat hulle ’n operasionele plan in werking gestel het om die brandpunte te identifiseer.

“Gemeenskappe in die gebiede sal van tyd tot tyd verskeie klopjagte en operasies sien gebeur.”

Potelwa het ook die skietvoorval waarin Taufiq gewond is, bevestig. Volgens haar het strydende bendes op mekaar geskiet.

Sy het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om die polisie te kontak sou hulle weet waar onwettige vuurwapens en ammunisie gehou word.

“Inligting kan deurgegee word via Stop Misdaad by 08600 10111 of via die MySAPS-app. Alle inligting sal vertroulik hanteer word.”

Potelwa het nie vrae beantwoord oor die landlynnommers by die Manenberg-polisiekantoor wat nie werk nie.

Meer oor:  Manenberg  |  Bendeskietery  |  Seun  |  Hospitaal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.