Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
7 mense in 48 uur vermoor in PE

Minstens sewe mense is binne twee dae in die Motherwell-polisiegebied in Port Elizabeth vermoor.

Die moorde is gepleeg in New Brighton, Perseverance, Motherwell en KwaZakhele, wat enkele kilometer uitmekaar geleë is.

Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het Vrydag gesê die polisie het ook nog geen deurbraak in hul ondersoek gemaak na die vlaag moorde nie.

Hy sê in die jongste voorval is ’n 37-jarige man Donderdagaand om 20:20 in Paarlstraat, New Brighton, doodgeskiet.

Die slagoffer is as Nicholas Thako geïdentifiseer.

Thako het glo saam met ’n groep mense huis toe gestap toe ’n onbekende getal skieters op hulle losbrand.

Die groep het uitmekaar gespat en skuiling gesoek, maar Thako is noodlottig gewond in sy nek en bors.

Beetge sê die motief is ook nog onbekend.

Vroeër Donderdagmiddag, om 15:30, is ’n onbekende man se lyk met twee skietwonde in sy kop op die spoorlyn naby Siya Kulati-straat in New Brighton aangetref.

Volgens Beetge het ’n groep kinders wat in die gebied gespeel het, op die lyk afgekom.

Dit is nog nie seker of die man op die toneel vermoor is nie.

In die vroeë oggendure van Donderdag is die polisie na nóg ’n onverwante moordtoneel by die Ebuhlanetini-gemeenskapsplase naby Perseverance uitgeroep nadat veewagters op die lyk van Michael Mafuxwana (59) afgekom het.

Hy het met verskeie steekwonde aan sy lyf op ’n grondpad tussen veekrale gelê.

Ook Woensdag het die polisie hul hande vol gehad met moordsake. Dié aand om 21:20 is ’n onbekende man in Ngwendustraat, KwaZakhele, doodgeskiet.

Volgens ooggetuies het die slagoffer by ’n motor uitklim en laat spaander. Die insittendes van die betrokke motor het blykbaar op hom losgebrand voordat hulle weggejaag het.

Die slagoffer het enkele meter verder af in die straat ineengestort, waar hy later dood verklaar is. Hy is twee keer in die kop en twee keer in die rug geskiet.

Sowat ’n uur voor bogenoemde voorval is die lyk van nóg ’n onbekende man in Madolostraat, New Brighton, met veelvuldige skietwonde aangetref.

Beetge sê geen ooggetuies het nog navore gekom nie en die omstandighede rondom die moord is nog vaag.

Woensdagaand omstreeks 20:00 is twee mans ook in ’n onverwante voorval aangeval.

Volgens Beetge was twee mans besig om ’n erf in Sabastraat, KwaZakhele, skoon te maak toe twee ander mans op hulle skiet.

Ayanda Mapuma (31) is op die toneel doodgeskiet, terwyl sy 34-jarige vriend ’n skietwond aan sy skouer opgedoen het.

Die polisie se inligting dui tans daarop dat die motief vir die skietvoorval moontlik bendeverwant kan wees, het Beetge gesê.

Vroeër Woensdagmiddag is ’n brood-afleweraar in die NU-11-gebied, Motherwell, doodgeskiet.

Die motief agter die moord is volgens Beetge roof, aangesien die drie aanvallers blykbaar kort ná die skietdood die slagoffer se geld gesteel en weggehardloop het.

Die polisie het die moorde, wat oor ’n tydperk van 48 uur gebeur het, ten sterkste veroordeel. Enigeen met inligting kan hul naaste polisiekantoor of die Stop Misdaadnommer 08600 10111 bel.

Meer oor:  Motherwell  |  Port Elizabeth  |  Polisie-Ondersoek  |  Misdaad  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.