Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
7 vas ná reeks inbrake by huis in Kirkwood

Sewe mans wat glo vier keer in drie dae by een huis in Kirkwood ingebreek het, is deur die polisie vasgetrek.

Die groep mans, tussen die ouderdom van 24 jaar en 32 jaar, is Dinsdag in dié Oos-Kaapse sitrusdorp aangekeer nadat die polisie ’n toegewyde span speurders saamgestel het om die vlaag huisbrake te ondersoek.

Ammunisie en gereedskap is onder die vermoedelik gesteelde artikels wat ’n groep inbrekers oor die Paasnaweek uit ’n huis in Anglestraat in Kirkwood gebuit het. Foto: Verskaf

Volgens die polisie is daar tussen Saterdag en Dinsdag by dieselfde huis in Anglestraat in Kirkwood ingebreek terwyl die huiseienaars oor die Paasnaweek weg was.

Kapt. Gerda Swart, polisiewoordvoerder, sê die eerste inbraak was Saterdag. Die inbrekers het toe die motorhuis se deur beskadig om toegang tot die huis te verkry. Verskeie huishoudelike artikels is in dié inbraak gesteel.

Beamptes van ’n plaaslike veiligheidsmaatskappy het die huis ná die inbraak weer beveilig.

Swart sê na bewering het dieselfde groep inbrekers Maandagoggend weer by die huis toegeslaan. Dié keer is ’n skuifdeur verwyder om toegang tot die huis te verkry. Verskeie artikels is weer gesteel.

Daardie Maandagaand het ’n groep weer by die huis opgedaag, maar ’n veiligheidsbeampte het hulle ingewag.

Hy het die groep mans agternagesit, maar hulle het hom ontduik.

Sakke vol vermoedelik gesteelde goedere is deur die polisie teruggekry nadat hulle op ’n huis in Aquapark in Kirkwood toegeslaan het. Foto: Verskaf

Dinsdag in die vroeë oggendure het vermoedelik dieselfde groep wéér na die huis teruggekeer. Die skuifdeur is weer verwyder. Dié keer het die inbrekers glo petrol oor die meubels in die huis, asook teen die huis se buitemure, gegooi, waarna hulle die voordeur aan die brand gesteek het.

Swart sê veiligheidsbeamptes het die brand met water uit die swembad geblus. Net geringe skade is aangerig.

Die inbrekers het egter weer daarin geslaag om van die toneel af te vlug.

Nóg ammunisie wat vermoedelik by die huis in Anglestraat gesteel is tydens ’n reeks inbrake hier oor die Paasnaweek. Foto: Verskaf

Kort ná die voorval het die polisie Dinsdagoggend ’n span speurders saamgestel om verskeie leidrade en inligting op te volg.

Die polisie het later die oggend by ’n huis in Aquapark in Kirkwood toegeslaan waar die sewe mans in hegtenis geneem is. Na bewering is hulle met verskeie artikels uit die huis in Anglestraat in hul besit betrap.

Die polisie het ook beslag gelê op ammunisie wat vermoedelik uit dieselfde huis gesteel is.

Die groep vermeende inbrekers sal Donderdag in die landdroshof verskyn. Hulle word onder meer aangekla van huisbraak, diefstal, brandstigting, die onwettige besit van ammunisie en die besit van vermoedelik gesteelde eiendom.

Brig. Ronald Koll, waarnemende bevelvoerder van die Uitenhage-polisiegebied, het die gemeenskap bedank vir die waardevolle inligting wat verskaf is en wat tot die inhegtenisneming van die groep verdagtes gelei het.

Meer oor:  Kirkwood  |  Misdaad  |  Inbrake  |  Inhegtenisname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.