Sewe mans is in Caledon vasgetrek nadat hulle na bewering ’n winkel in dié Overbergse dorp in die Wes-Kaap beroof het.
Sers. Noloyiso Rwexana, polisiewoordvoerder, sê die flink optrede van die polisie het Dinsdagaand daartoe gelei dat die rowers nie ver gekom het nadat die winkel in Site Saviva beroof is nie.
“Hulle is tussen 24 en 34 jaar oud. ’n Groep rowers het die winkel binnegegaan en die eienaar met ’n vuurwapen gedreig en kontant geëis. Hy is met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan en geld en ’n skootrekenaar is gesteel,” sê sy in ’n verklaring.
Rwexana sê die rowers het gevlug, maar lede van die gemeenskap en ander winkeleienaars het hulle aangerand voordat hulle in ’n Toyota Hilux-bakkie van die toneel gevlug het.
“Die polisie was onderweg na die toneel toe hulle ’n Toyota Hilux-bakkie sien aankom vanuit die rigting waar die rooftog plaasgevind het. Die voertuig is voorgekeer en gestop.”
Daar is op twee ongelisensieerde vuurwapens beslag gelê. Die mans sal na verwagting binnekort in die hof verskyn.

Die vuurwapens waarop beslag gelê is. Foto: SAPD