Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
7 vas oor bedrog by NMB-metro

Vier voormalige munisipale amptenare is Donderdag vasgetrek weens hul beweerde rol by bedrog van byna R26 miljoen in die Nelson Mandelabaai-metro.

Die Valke het Donderdagoggend vroeg die vier voormalige amptenare, asook drie direkteurs van ondernemings in hegtenis geneem op aanklagte van bedrog, korrupsie en geldwassery.

Dit hou verband met die omstrede tenderkontrak wat meer as vyf jaar gelede glo onregmatig deur die munisipaliteit toegeken is aan die beslote korporasie (BK) Milongani Eco-Consulting vir omgewingsbestuursdienste.

Mongameli Bobani
Wyle Mongameli Bobani, voormalige burgemeester van die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Lulama Zenzile

Mongameli Bobani, voormalige burgemeester van die metro wat in November 2020 aan Covid-19 dood is, se naam het verskeie keer opgeduik tydens die beskuldigdes se hofverskyning Donderdagmiddag in die landdroshof in Gqeberha.

Die staat voer aan Bobani, wat ten tyde van die toekenning van die kontrak ’n raadslid was en op die staande komitee vir openbare gesondheid gedien het, en die beskuldigdes het saamgesweer om Milongani Eco-Consulting as diensverskaffer vir die munisipaliteit aan te stel, waarmee geld vanuit die munisipale koffers onregmatig bekom is. Bobani het volgens die Valke sowat R2,5 miljoen vir sy rol ontvang.

Netwerk24 het voorheen berig dat Athol Trollip, die voormalige burgemeester van die metro wat Bobani in 2016 as sy onderburgemeester aangestel het, die kontrak met Milongani Eco-Consulting stopgesit en ’n ondersoek aangevra het.

Trollip het onraad vermoed toe hy die betalings aan die BK nagaan en vind hy is op die eerste dag van ’n projek miljoene rande betaal vir duisende ure se werk wat nog gedoen moes word. Trollip het Bobani dadelik uit die openbare-gesondheid-komitee verwyder.

Ná etlike jare se ondersoek het die Valke Donderdag die eerste inhegtenisnemings in die saak uitgevoer.

Die beskuldigdes is:

Rukaard Stefferine Lezario Abrahams
Rukaard Stefferine Lezario Abrahams, direkteur van Dankovista Edms. Bpk., het Donderdag die borgtog van R10 000 betaal wat aan hom toegestaan is in ’n saak van bedrog by die Nelson Mandelabaai-metro. Foto: Lulama Zenzile

• Mpho Steyn Nangammbi (44), direkteur van Milongani Eco-Consulting BK;

• Joram Mziwonke Mkosana (49), voormalige direkteur van die munisipaliteit se omgewingsafvalbestuursdienste in die openbare-gesondheid-direktoraat;

• Thabo Williams (45), voormalige projekbestuur in die openbare-gesondheid-direktoraat;

• Andile Wellington Tolom (51), voormalige uitvoerende direkteur van die openbare-gesondheid-direktoraat;

• Vuyokazi Bazi (35), ’n voormalige vakleerling van die munisipaliteit se omgewingsbestuurafdeling;

• Thandeka Gloria Buti (50), ’n lid van 4 Sister Trading, met tekenregte vir die maatskappy se bankrekening; en

• Rukaard Stefferine Lezario Abrahams (31), direkteur van Dankovista Edms. Bpk.

Buti en Abrahams se bankrekeninge is na bewering gebruik om die geld na Bobani se rekening oor te plaas.

Volgens die staat is fakture deur Milongani Eco-Consulting by die munisipaliteit ingedien vir werk wat nie gelewer is nie. Die munisipaliteit het van 2015 tot 2017 43 betalings van altesame sowat R25,6 miljoen aan Milongani Eco-Consulting gedoen.

Nangammbi het na bewering die geld in verskeie bankrekeninge van die maatskappy betaal en daarvandaan aan die betrokke beskuldigdes oorbetaal.

Anelisa Ngcakani, streekwoordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG), sê die hooggeregshof in Makhanda het die afgelope week ook ’n bevel toegestaan aan die batebeslagleggingseenheid van die NVG vir die bates van die beskuldigdes, hul gades en entiteite, asook die bates en boedel van Bobani.

Al die beskuldigdes is Donderdagmiddag borgtog van bedrae wat wissel van R1 000 tot R20 000 toegestaan. Dit was onduidelik of almal die betrokke bedrae sal kan betaal, aangesien hulle vir heelwat kleiner borgtogbedrae gevra het.

Die saak is tot 28 Januarie uitgestel.

Volgens adv. Ulrike de Klerk, staatsaanklaer, behels die polisie se ondersoek, insluitende die forensiese ouditverslag, meer as 22 000 blaaie en is ’n lang uitstel nodig sodat die betrokke partye genoeg tyd het om deur die aanklagte te gaan.

Meer oor:  Nelson Mandelabaai-Metro  |  Valke  |  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.