Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
7 vas: Vroue glo as lokvink gebruik om te kaap, roof

Sewe mense wat glo vroue as lokvinke gebruik het om hul slagoffers se voertuie te kaap en hulle te beroof, is ná intensiewe polisiewerk vasgetrek.

In van die voorvalle is slagoffers ook vermoor.

Volgens kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, het vier van die verdagtes – Abrahim Thobejane (37), Gaven Khumalo (39), Edgar Maluleka (40) en Koos Maite (37) – reeds Maandag in die landdroshof in Brits verskyn op aanklagte van motorkaping en roof met verswarende omstandighede. Die vier bly in aanhouding tot hul volgende hofverskyning op 1 Desember.

Lt.genl. Sello Kwena, polisiekommissaris in Noordwes. Foto: SAPD

Die ander drie verdagtes sal na verwagting binnekort in onderskeidelik die landdroshof in Atteridgeville en Krugersdorp verskyn op aanklagte van motorkaping, moord en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

Myburgh sê in ’n mediaverklaring die verdagtes het na bewering tydens sommige van die voorvalle vroue gebruik wat hulle voorgedoen het as rylopers, prostitute of iemand in nood.

“Wanneer die slagoffers gestop het, het die verdagtes glo skielik uit die bosse gekom, die slagoffers oorrompel en hul voertuie gekaap. In die meeste van die gevalle is die motoriste ook van waardevolle items beroof.”

In een van die voorvalle was ’n 44-jarige man op 3 Januarie vanjaar met sy Toyota Corolla Quest op die R512 in die omgewing van Hartbeespoortdam onderweg toe ’n Toyota Conquest skielik reg voor hom stop.

“Ses van die verdagtes, waarvan drie glo gewapen was, het die slagoffer na bewering oorrompel, hom vasgebind en van sy persoonlike besittings beroof. Hy is in die bosse langs die pad gelos. Die slagoffer het tot by die pad geloop, waarna ’n ander motoris hom gehelp het.”

“Die verdagtes is ná hul inhegtenisneming verbind met verskeie voorvalle van kaping, moord, diefstal, asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie.

In nog ’n voorval in Oktober vanjaar het ’n ander slagoffer langs ’n pad in Hartbeespoort gestop om ’n vrou wat oënskynlik hulp nodig gehad het, by te staan. Die verdagtes het na bewering toe uit die bosse op die slagoffer afgestorm, vuurwapens op hom gerig en hom beroof.

Myburgh sê die sewe verdagtes is die afgelope naweek in hegtenis geneem danksy ’n spanpoging tussen speurders in Hartbeespoort, die eenheid vir sigbare polisiëring en Brits se trio-taakspan. “Die verdagtes is ná hul inhegtenisneming verbind met verskeie voorvalle van kaping, moord, diefstal, asook die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Die misdrywe is in onderskeidelik Muldersdrift, Hartbeespoort en Atteridgeville gepleeg.”

Lt.genl. Sello Kwena, polisiekommissaris in Noordwes, het die betrokke polisielede geloof vir hul voortgesette harde werk om te verseker die verdagtes word vasgetrek en dat onwettige vuurwapens uit “verkeerde hande” verwyder is. “Ons sal aanhou om misdadigers aan die kaak te stel,” sê hy.

Meer oor:  Noordwes  |  Beroof  |  Kaap  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.