Die polisie in die Wes-Kaap het die naweek agt verdagtes vasgetrek en op ses ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in Vishoek beslag gelê.
Kol. Andrè Traut, provinsiale polisiewoordvoerder, sê die polisie het die gebied gepatrolleer toe hulle Sondag ’n minibustaxi wat verdag gelyk het, gestop het.
Traut sê die minibustaxi sowel as die agt insittendes is deursoek.
“Die vuurwapens en ammunisie is in ’n versteekte kompartement in die voertuig gekry. Die verdagtes, wat almal in hul twintigs en dertigs is, is op die toneel in hegtenis geneem. Hulle sal na verwagting Dinsdag in die hof in Simonstad verskyn.”
Traut sê die polisie is optimisties dat hulle moontlik met ander misdade verbind kan word.

Die polisie in Vishoek het op die vuurwapens beslag gelê. Foto: SAPD