Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
8-jarige dood ná tiener hom aanrand

’n Tienerseun (17) het Maandag in die landdroshof in Koster verskyn op ’n aanklag van moord omdat ’n agtjarige seun dood is nadat die ouer seun hom glo by die skool aangerand het.

Kapt. Sam Tselanyane, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die saak is tot 6 Junie uitgestel. Die seun sal intussen in ’n kinder-en-jeugsorgsentrum aangehou word. Sy naam word weerhou omdat hy minderjarig is. Die polisie het ook nie die identiteit van die agtjarige bekend gemaak nie.

Volgens Tselanyane het die beweerde aanranding Vrydag 10 Mei by die Kgalagatsane Primary School in die Reagile-township in Koster gebeur. Die agtjarige was ’n leerling daar. Die 17-jarige het glo ’n groep leerlinge op trappe by die skool aangeval.

“Hulle kon weghardloop, maar die agtjarige is gevang, geslaan en by die trappe afgestamp. Die 17-jarige het hom na bewering daarna gevolg en wéér aangerand,” sê Tselanyane.

Die agtjarige het daarna blykbaar kruppel geloop, maar nie dadelik vir sy onderwysers of ma vertel hy is aangerand nie. Die seun se ma is die Maandag (13 Mei) na die skool om te laat weet haar seun is siek. Hy het intussen vir haar vertel wat gebeur het. ’n Saak van aanranding met die doel om ernstig te beseer, is by die polisie aanhangig gemaak. Die seun is na ’n nabygeleë hospitaal geneem, waar vasgestel is sy een been is gebreek.

Hy is verlede Donderdag in die hospitaal dood, maar dis nie duidelik wat die presiese oorsaak van sy dood was nie.

“Die verdagte is hierna op ’n klag van moord in hegtenis geneem,” sê Tselanyane.

Maatskaplike werkers sal hom nou evalueer ingevolge die Kinderwet.

Meer oor:  Koster  |  Aanranding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.