Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
8-jarige dood nadat man glo op Kaapse beamptes skiet

Chaos het Maandagmiddag in die strate van Elsiesrivier, Kaapstad, uitgebreek toe ’n agtjarige seun doodgeskiet en ’n 12-jarige meisie gewond is nadat ’n man op beamptes van die Kaapse metro geskiet het.

Kapt. Frederick van Wyk, woordvoerder van die polisie, het gesê die toneel was laatmiddag steeds afgesper sodat die polisie se forensiese deskundiges die toneel kan fynkam.

Dit blyk dat beamptes van die Kaapstad-metro in opdrag van die departement van behuising huise in die omgewing geïnspekteer het.

’n Groep mense het saamgedrom en dit blyk dat daar vanuit dié groep op die beamptes geskiet is.

Die seun is doodgeskiet en die gewonde meisie is na ’n nabygeleë gesondheidsorgsentrum geneem.

Van Wyk sê die polisie ondersoek klagte van moord en poging tot moord.

Richard Bosman, uitvoerende direkteur van veiligheid by die metro, het bevestig dat iemand op beamptes begin skiet het toe hulle in Elsiesrivier gewerk het.

Hy sê die beamptes het nie teruggeskiet nie, maar eerder skuiling gesoek. Die skote is uit die rigting van ’n groep mense afgevuur.

“Twee kinders is in die skietery deur die dwaalkoeëls getref. Die man wat glo die skote afgevuur het, is deur die groep mense uitgeken, maar hy het van die toneel gevlug,” het Bosman gesê.

Van Wyk het gevra mense met inligting moet die ondersoekbeampte, Carmen Prins, by 060 582 8496 bel of die Stop Misdaadnommer by 08600 10111.

• Unathi Booi, woordvoerder van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD), het gesê daar is geen waarheid in die gerugte dat kinders op ’n skoolterrein deur die voorval geraak is nie.

Die WKOD se distrikskantoor in Elsiesrivier gaan wel help met berading by die skool.

“Dit is ’n tragiese voorval. Ons gedagtes is by die families in hierdie moeilike tydperk,” het Booi gesê.

Meer oor:  Elsiesrivier  |  Kaapstad  |  Doodgeskiet  |  Skiet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.