Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
8 nou vas ná moord op polisielid in Mahikeng

Nóg verdagtes het Woensdag in die landdroshof in Mmabatho verskyn nadat agt mense nou al vir die moord op ’n polisiekonstabel in Mahikeng vasgetrek is.

Konst. Thato Makhoana (26) se lyk is op 29 Julie met skietwonde naby Mahikeng gevind nadat hy dieselfde dag vermis geraak het.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, het kort nadat die lyk gevind is, gesê Makhoana was nie aan diens toe hy vermoor is nie. Hy was in Mmabatho gestasioneer.

Makhoana het die betrokke oggend na sy suster in Zeerust gery, maar nooit daar opgedaag nie. Toe niemand hom later telefonies kon bereik nie, het die soektog begin.

Sy lyk is vroegaand in ’n nedersetting naby Majemantsho (in die Mahikeng-distrik) gevind. Sy uitgebrande Toyota Corolla is sowat 40 km van daar in ’n ander nedersetting, maar ook in die Mahikeng-distrik, gevind.

Konst. Thato Makhoana wat vermoor is. Foto: Verskaf

Kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder in Noordwes, sê in ’n mediaverklaring die eerste verdagte, Joseph Mathe (47), is op 4 Augustus vasgetrek. Meer besonderhede oor hoe hy met die moord verbind word, is nog nie bekend gemaak nie omdat dit die ondersoek kan belemmer, het Rikhotso gesê.

Die ondersoek deur ’n multidissiplinêre span, bestaande uit onder meer die Valke, die polisie se honde-eenheid en die blitspatrollie, het die afgelope naweek gelei tot die inhegtenisneming van drie burgers van Pakistan en een van Nigerië nadat Makhoana se selfone by hulle gevind is.

Nog ’n verdagte, na bewering die baasbrein agter die aanval op Makhoana, is daarna in Mahikeng in hegtenis geneem.

Volgens Rikhotso is Makhoana se 9 mm-dienspistool, ammunisie en handboeie, wat ook aan hom behoort het, in ’n huis in Mahikeng gevind.

“Die eienaars van die huis is later in hul wegkruipplek in die Majemantsho-nedersetting in hegtenis geneem en daar is ook beslag gelê op nóg twee pistole wat by dié twee verdagtes gevind is.”

Van die verdagtes het Dinsdag in die landdroshof in Mmabatho op aanklagte van voertuigkaping, roof met verswarende omstandighede en moord verskyn. Gabriel Anyawu (32), Idtisam Naseer (22), Aijiz Haimal (24) en Mohammed Afzal (24) is elk op borgtog van R2 000 vrygelaat. Mathe en Goitseone Maseng (32) sal op 19 Augustus om borgtog aansoek doen.

Magano Tsatsi (44) en sy 14-jarige seun, by wie die vuurwapens gevind is, het Woensdag in die hof verskyn. Daar sal ingevolge die Kinderwet met die minderjarige seun gehandel word. Hy is in sy ma se sorg vrygelaat. Tsatsi bly in aanhouding en verskyn ook weer op 19 Augustus in die hof.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.