Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
8 van SA se brandpunte vir geslagsgeweld in W-Kaap

Agt van Suid-Afrika se geïdentifiseerde brandpunte vir geslagsgeweld is in die Wes-Kaap.

En al agt, naamlik Delft, Nyanga, Khayelitsha, Mfuleni, Mitchells Plain, Kraaifontein, Gugulethu en Bellville, is in Kaapstad.

Alan Winde, Wes-Kaapse premier, het Woensdagmiddag hieroor gesê dat geslagsgeweld ’n “massiewe bekommernis” vir sy administrasie is én dat dit een van die redes is waarom sy regering verlede jaar ’n veiligheidsplan in werking gestel het.

“Dié plan het twee aspekte, naamlik om bykomende wetstoepassingshulpbronne op ’n data-gedrewe manier in gebiede te ontplooi waar geweld die ergste is.

“Verder is programme vir geweldvoorkoming in al ons departemente ingestel om die kernoorsake van geweld te pak.”

Winde het bygevoeg dat die brandpunte wat Bheki Cele, minister van polisie, Dinsdag vir die Wes-Kaap aangekondig het, reeds vir ingryping as deel van die provinsiale veiligheidsplan geïdentifiseer is.

“Sommige aspekte van die plan is weens Covid-19 vertraag of gewysig, maar veiligheid bly ’n fokusgebied vir die Wes-Kaapse regering in ons post-Covid-herstel.”

Intussen het pres. Cyril Ramaphosa Woensdag ook in ’n verklaring gesê dat Erfenismaand ook daarop gemik is om die stryd teen geslagsgeweld en die moorde op vroue in die land te beklemtoon.

Ramaphosa het gesê sy regering sal voortgaan om gemeenskappe beter bewus te maak om positiewe gedragsverandering teweeg te bring.

Sommige aspekte van die plan is weens Covid-19 vertraag of gewysig, maar veiligheid bly ’n fokusgebied vir die Wes-Kaapse regering in ons post-Covid-herstel.

Nieregeringsorganisasies wat daagliks met slagoffers van geslagsgeweld in Kaapstad werk, het Woensdag ook hul menings oor die brandpunte gelig.

Joy Lange, uitvoerende lid van die National Women Shelter Movement en direkteur van die St. Anne’s Home for Women and Children in Woodstock, het gesê hoewel die identifisering van brandpunte ’n stap in die regte rigting is, benodig Suid-Afrika egter ’n multi-sektorale benadering teen geslagsgeweld.

“Terselfdertyd moet baie meer ook gedoen word om geslagsgeweld in landelike gebiede te bestry.”

Volgens haar moet die wetgewing en beleid ook tot op grondvlak geïmplementeer word.

Siyabulela Monakali, woordvoerder vir die Gugulethu-gebaseerde Ilitha Labantu, het gesê die Kaapse Vlakte was nog altyd ’n gewelddadige samelewing in die algemeen en dat geslagsgeweld in die brandpunte deel daarvan is.

Hy wil weet wat verskillend in die brandpunte gedoen sal word om daardie gemeenskappe op grondvlak te verander.

Monakali meen dat die finansiering van nieregeringsorganisasies, “wat intree waar die regering op grondvlak misluk”, moet ook deeglike aandag kry.

Jeanne Bodenstein, ’n spesialis by die Rape Crisis Cape Town Trust, het gesê dat die brandpunt die behoefte vir gespesialiseerde ondersteuningsdienste vir slagoffers van misdaad uitwys wat tans bedreig word deur die beoogde wetsontwerp oor slagofferdienste.

“Hierdie wetsontwerp wil burgerlike organisasies wat tans baie nodige ondersteuning aan slagoffers bied, oorreguleer.”

Sy meen die strafregstelsel moet verder versterk en dat spesialishowe vir seksuele oortredings landwyd opgerig moet word.

Cele het Dinsdag gesê dat die brandpunte geïdentifiseer is omdat geslagsgeweld krisisvlakke bereik het.

Behalwe die agt brandpunte in die Wes-Kaap, is nege ander in metro’s oor Gauteng heen, sewe in KwaZulu-Natal en die oorblywende ses in onderskeidelik die Oos-Kaap, Vrystaat en Noordwes.

Die brandpunte is polisiekantore waar die meeste sake van huishoudelike geweld, verkragtings, mensehandel en ontvoerings in 2019-’20 aangemeld is.

Cele het gesê die polisie se korttermyn-aksieplan teen geslagsgeweld sluit in dat alle polisiekantore permanente toonbanke vir geslagsgeweld, sowel as slagoffer-vriendelike kamers, sal kry om slagoffers professioneel by te staan.

Bewusmakingsveldtogte sal ook in die geraakte gemeenskappe begin word.

Intussen het Thandi Modise en Amos Masondo, die parlement se voorsittende beamptes, Woensdag gesê dat drie nuwe wetsontwerpe tans voor die parlement dien wat die stryd teen geslagsgeweld sal versterk.

Hulle meen alle Suid-Afrikaners moet egter saamwerk om die omgewing wat geslagsgeweld toelaat, te verander.

Meer oor:  Wes-Kaap  |  Alan Winde  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.