Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
88-jarige versmoor, kry dalk hartaanval tydens rooftog

Henry Coetzee (88) van Pretoria was so trots en “hardekwas” dat hy geen hulp of voorbereide etes van mense in sy straat wou aanvaar nie.

Sy aanvallers het dié netjiese, byna-kluisenaar egter in sy laaste oomblikke van sy waardigheid gestroop deur hom op sy maag op ’n bed te laat lê. Hulle het sy hande agter sy rug vasgebind, sy voete vasgemaak en ’n laken om sy kop gedraai. Die laken is met onder meer maskeerband vasgemaak.

Só het Clive Symington die lyk van die bejaarde man Saterdagoggend in sy huis in Suikerboslaan in Lydiana, Pretoria, aangetref.

Symington, eienaar van die Yarona-gastehuis in dieselfde straat, het Maandag gesê dit was ’n skok om Coetzee só te sien. “Dis nog nie seker of hy versmoor het en of hy tydens die rooftog ’n hartaanval gekry het nie,” het Symington gesê.

“ ’n Lykskouing moet nog gedoen word. Ons het geen sigbare beserings aan Henry gesien nie.”

Dit is ook nog nie duidelik of enigiets geroof is nie.

Dis nog nie seker of hy versmoor het en of hy tydens die rooftog ’n hartaanval gekry het nie.

Symington vermoed Coetzee, wat soms smiddags gaan stap het, is dalk Vrydagmiddag (18 Oktober) vóór 18:00 buite sy huis oorval omdat hy nog sy dagklere aangehad het. “Hy trek gewoonlik laatmiddag al sy nagklere aan en het omstreeks 18:00 gaan slaap. Sy bos sleutels is ook weg.”

Volgens Symington het ’n voormalige buurman van Coetzee hom altyd Saterdagoggende opgelaai om inkopies te gaan doen. “Henry staan gewoonlik buite die hek en wag. Toe hy Saterdag nie daar was nie, het die weldoener onraad vermoed en my gebel. Ek het ’n sleutel van Henry se huis. Ons het ingegaan en op sy lyk afgekom.”

Symington sê Coetzee se vrou is al dekades gelede dood. Hy het geen kinders of troeteldiere nie.

“Hy was eensaam en het baiekeer hier by my kom sit en gesels. Maar as ons vir hom iets te ete of hulp aangebied het om sy huis skoon te maak, was hy te trots om dit te aanvaar. Hy het ook nie ’n huishulp gehad nie. Henry het maar van ontbytgraankosse, vrugte en (die voedseldrankie) Ensure geleef. Hy was baie netjies op homself. Ek het baiekeer aangebied dat hy in ’n kamer in my huis kan kom woon, maar hy wou nie.”

Coetzee het voor sy aftrede vir ’n oliemaatskappy gewerk en baie gereis. “Hy het altyd gespog dat hy sy eie baas was en kon pendel soos hy wil,” het Symington Maandag vertel.

Ao. Michael Nel, polisiewoordvoerder in Pretoria, het bevestig Coetzee is gevind met sy hande agter sy rug vasgebind. “Ons ondersoek ’n saak van moord, hoewel die motief nog nie bekend is nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Nel het ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting oor die aanval, om die polisie se tolvrye nommer 0860010111 te bel.

Ons ondersoek ’n saak van moord, hoewel die motief nog nie bekend is nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.