
Die verdagtes wat aangekeer is. Foto: SAPD
Die Wes-Kaapse polisie het Dinsdagmiddag in ’n klopjag in die nywerheidsgebied by die Kaapstadse Lughawe nege verdagtes vasgetrek en op sowat R640 000 se drank beslag gelê.
Dit kom nadat misdaadintelligensie ’n geruime tyd inligting opgevolg het oor die onwettige handel in drank wat glo van ’n wynplaas in die Paarl en Lughawe Industria af bedryf word.
Kapt. Frederick van Wyk, Wes-Kaapse polisiewoordvoerder, sê misdaadintelligensie het Dinsdagmiddag in samewerking met die teenbende-eenheid ’n vragmotor voorgekeer en deurgesoek.
“Nege verdagtes tussen die ouderdom van 26 en 55 is in hegtenis geneem. Die polisie het op 3 000 5 liter- en 3 liter-bottels goedkoop wyn sowel as 1 416 750 ml-bottels rooiwyn beslag gelê.”
Van Wyk sê daar is ook op ’n aansienlike bedrag kontant en die afleweringsvragmotor beslag gelê.
“Die polisie het op die perseel in Lughawe Industria ’n stoorplek met veiligheidsuniforms, kluise, vurkhysers en nog bokse met alkohol ontdek.”
Van Wyk sê die verdagtes word aangekla van oortredings van die Wet op Rampbestuur met betrekking tot die verkoop en verspreiding van alkohol.
Hulle sal na verwagting binnekort in die Bishop Lavis-landdroshof verskyn.

Die verpakte alkohol waarop beslag gelê is. Foto: SAPD

Die kontant wat die polisie in die klopjag gekry het. Foto: SAPD