Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
9 in Noordwes betrap met goud, renosterhoring

Nege mense wat vermoedelik onwettig handel dryf met renosterhoring en goud het Donderdag hul rieme styf geloop toe hulle in hegtenis geneem en daar beslag gelê is op byna R2,5 miljoen se ware.

Die Valke het Donderdag twee mans van onderskeidelik 72 en 31 jaar oud in Vryburg vasgetrek terwyl hulle glo probeer het om renosterhorings te verkoop. Twee horings met ’n gesamentlike waarde van sowat R2,4 miljoen is by hulle gevind, het kapt. Tlangelani Rikhotso, Valke-woordvoerder, gesê.

Een van die renosterhorings waarop die Valke in Vryburg, Noordwes, beslag gelê het.

“Die lede het toegeslaan nadat hulle vooraf inligting oor die voorgenome transaksie ontvang het.”

Die Valke het op die horings beslag gelê. Die twee verdagtes verskyn Maandag in die landdroshof in Vryburg.

Intussen het verskeie polisie-eenhede saamgewerk om sewe mans by ’n huis in die Khuma-township naby Stilfontein vas te trek, waar hulle na bewering klippe met goud daarin verwerk het. Lt.kol. Amanda Funani, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die Kenneth Kaunda-distrik se span wat onwettige mynbedrywighede ondersoek, die taktiese-reaksie-eenheid en die Valke was almal betrokke.

Die tweede renosterhoring waarop die Valke in Vryburg beslag gelê het.

“Die polisie het ’n wenk oor die beweerde verwerking van goud by die huis gekry. Toe hulle Donderdag daar aankom, is die sewe verdagtes betrap met materiaal (klip) waarin goud is. Die goud het ’n geraamde straatwaarde van R400 000.”

Toerusting waarmee onder meer snywerk gedoen word, gasbottels, ’n suurstofsilinder, 600 batterye en ’n bedrag kontant is ook by die huis gevind. Die polisie het nie bekend gemaak hoeveel geld gevind is nie. Die sewe verdagtes verskyn Vrydag in die Stilfontein-landdroshof weens die onwettige besit van goud en materiaal wat goud bevat.

Funani het Vrydag gesê dis nie duidelik waar die Stilfontein-verdagtes die klippe met goud gekry het nie. “Volgens die ondersoekbeampte is daar in dié stadium nie rede om te vermoed die verdagtes is moontlik deel van groepe onwettige myners in Orkney nie.”

Die klippe wat goud bevat waarop die polisie in Khuma naby Stilfontein beslag gelê het.

Nadat ’n goudmyn in Orkney ’n paar jaar gelede toegemaak het, myn die sogenaamde zama-zamas aktief daar. Altesame 20 lyke van onwettige mynwerkers, meestal burgers van Lesotho, is verlede week in sakke naby ’n ou mynskag in Orkney gevind.

Die oorskot was reeds erg ontbind en die oorsaak van die myners se dood kon nie tydens lykskouings vasgestel word nie. Dit was wel duidelik dat hulle brandwonde gehad het, waarskynlik weens ’n ontploffing of brand terwyl hulle onwettig gemyn het. Die uitslag van forensiese toetse is nog uitstaande, het kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, gesê.

Van die items, onder meer kontant, waarop die polisie in Khuma naby Stilfontein beslag gelê het.

Die Lesotho-regering help om hul burgers se oorskot na dié land terug te neem. Genl. Selimo Thabane, konsul-generaal in Lesotho, het met die uitken van die oorskot Maandag in Klerksdorp gesê onwettige mynbedrywighede is ’n historiese probleem wat die regering in Lesotho al vir jare probeer uitroei.

Daar is egter talle uitdagings wat dit moeilik maak, maar Thabane het belowe amptenare van Lesotho sal saam met die Suid-Afrikaanse regering werk om die probleem te pak. Onwettige goudmynbedrywighede kos die Suid-Afrikaanse regering jaarliks sowat R14 miljard.

Die items waarop die polisie in Khuma naby Stilfontein beslag gelê het.
Meer oor:  Noordwes  |  Goud  |  Valke  |  Betrap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.