Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
9-jarige erg beseer in hoewe-aanval by Potch

Marlu Coetzee, ’n negejarige seun van Potchefstroom, is Donderdag na ’n Johannesburgse hospitaal gehaas nadat rowers sy neusbeen vergruis het.

“Hy is onder verdowing geplaas vir die pyn en weens die trauma van die aanval,” het sy oupa, Frans Landsberg, gesê.

Marlu is Donderdagoggend van die Mediclinic Potchefstroom na die Netcare Garden City-hospitaal in Johannesburg oorgeplaas.

Hy het ook bloeding agter sy linkeroog. Dokters sou hom na verwagting later Donderdagmiddag opereer.

Marlu se pa, Mario Coetzee, is bewusteloos weens die ernstige kopbeserings wat hy opgedoen het tydens die aanval Donderdagoggend vroeg op sy hoewe in die Vyfhoek-omgewing, Potchefstroom.

Mario Coetzee.

Mario word in die Potchefstroomse provinsiale hospitaal behandel. Dit was teen vroeg Donderdagmiddag nog nie bekend hoe ernstig sy beserings is nie.

Dis nie seker waarmee die rowers hulle aangerand het nie.

Mario se bejaarde ma, Nellie Coetzee, moes agt steke kry nadat een van die rowers haar met vermoedelik ’n flits oor die kop geslaan het. Sy en haar man, Paul, woon by hul seun op die hoewe.

Paul en Mario se dogter, Marizé (7), is nie in die aanval beseer nie. Landsberg sê egter sy kleindogter is erg getraumatiseer en dat sy en Marlu berading sal moet kry. “Marizé praat nie eintlik oor wat gebeur het nie, maar sy het gesê daar was twee aanvallers.”

Albei is leerlinge aan die Laerskool M.L. Fick in Potchefstroom.

Die kinders se ouers is geskei. Hulle woon gewoonlik by hul ma, Delia, in Potchefstroom. Landsberg sê sy het onlangs ’n rugoperasie gehad en kan tydelik nie bestuur nie. Marlu en Marizé het daarom nou by hul pa gaan woon sodat hy hulle soggens skool toe kan neem.

Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die kinders se ouma (Nellie) het net ná middernag wakker geword van ’n geskree in die huis. “Sy het na die gang geloop en daar ’n onbekende man aangetref. Toe sy vir hom vra wat hy in die huis soek, het hy haar met die flits geslaan en gevlug.”

Nellie is hierna na haar seun en kleinkinders se kamers, waar sy haar erg beseerde seun en kleinseun aangetref het. Sy het dadelik hulp ontbied. Landsberg sê Nellie het Delia ook gebel en net gesê sy moet dadelik na die hoewe kom. “ ’n Vriend van Delia het haar geneem. Delia het my ook dadelik gebel. Gelukkig woon ons ook in Potchefstroom, so ons kon vinnig daar wees.”

Die polisie soek na twee verdagtes, sê Myburgh. “Tot dusver lyk dit of die rowers net met ’n bos sleutels daar weg is.”

Meer oor:  Marlu Coetzee  |  Potchefstroom  |  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.