Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
90-jarige gebyt vir ringe aan haar vingers
vrou, ringe, aanval
'n 90-jarige vrou van Port Elizabeth is Saterdag in haar huis aangeval. Hierdie foto is net ter illustrasie. Foto: Unsplash

’n Groep waaghalsige diewe, gewapen met ’n swaard, het die ringe van ’n 90-jarige vrou van die Baaise vingers probeer afbyt voordat hulle haar huis geplunder en in haar motor gevlug het.

Die huisroof het vroeg Saterdag in die woonbuurt Charlo in Port Elizabeth gebeur.

Luidens die polisie het die 90-jarige vrou Saterdag om 01:10 wakker geword toe sy die honde in die huis hoor blaf. Toe sy by die venster uitkyk, het sy opgemerk haar motorhuis se deur is oop.

Drie mans het die vrou oorval toe sy by die kombuisdeur wou uitgaan om die deur toe te maak.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, sê een van die mans wat met ’n swaard gewapen was, het die vrou by die huis ingestoot. Sy twee makkers het gevolg.

Die vrou se 64-jarige seun (die klaer in die saak) het te midde van die chaos uit sy kamer gekom. Aldus Naidu het die vermeende rowers die man terug by sy kamer ingestoot.

“Hulle het geld geëis. Een van die mans het probeer om die ringe van die vrou se vingers af te byt, maar hy was onsuksesvol. Die verdagtes het ’n klein bedrag geld, klere, ’n televisie, twee selfone en ’n kluis met ’n .38-rewolwer daarin gebuit. Hulle is in die vrou se grys Chevy Spark daar weg,” sê Naidu.

Voordat die mans gevlug het, het hulle die vrou en haar seun met elektriese kabels vasgebind en in ’n kamer gelos.

Die vrou se motor is later verlate in Prospectweg, Walmer, opgespoor.

Volgens Naidu het die vrou geringe beserings aan haar vingers en haar arm opgedoen.

Hulle het geld geëis. Een van die mans het probeer om die ringe van die vrou se vingers af te byt, maar hy was onsuksesvol.

Tydens ’n aparte rooftog by ’n huis in Sigcawu Straat in die Walmer-township, het ’n 33-jarige man om 03:50 opgestaan om die buitetoilet te gebruik. Terwyl hy buite was, het sy meisie ’n geluid by die voordeur gehoor. Iemand het begin skree dat sy die deur moet oopmaak.

Toe die vrou die deur oopmaak, het drie onbekende mans ingekom wat wou weet waar haar kêrel is. Sy het gesê hy is nie daar nie. Die mans het hierna twee selfone en geld uit die slaapkamer gebuit.

Naidu sê die mans het skote buite die huis afgevuur en het gevlug.

Terwyl die polisie op dié toneel besig was, het nog ’n lid van die publiek (29) hulle in kennis gestel dat dieselfde drie verdagtes vroeër by sy huis was.

Die 29-jarige man beweer die verdagtes het skote deur sy slaapkamervenster afgevuur. Hulle het ook daarop aangedring dat hy sy deur oopmaak.

“Toe hy sy deur oopmaak het hy een van die mans herken. Hulle het geld geëis. Toe hy die mans sê dat hy nie geld het nie, het ’n geveg uitgebreek.”

Luidens inligting is die drie mans uiteindelik daar weg sonder om enigiets te neem.

Die jong man het toe volgens Naidu gesien hoe die drie rowers na ’n ander huis gaan.

Lede van die Mountweg-speurtak se trio-taakspan ondersoek twee afsonderlike voorvalle van huisroof.

Die polisie het mense gewaarsku om nie hul deure vir vreemdelinge oop te maak nie en veral nie in die middel van die nag nie. Inwoners word gemaan om die polisie te bel as hulle enigiets verdags opmerk.

Enigeen wat oor die inligting beskik wat die polisie kan help om die verdagtes in die twee voorvalle op te spoor, kan ao. Stephen Bustin by 082 303 0572 of die Walmer-polisiekantoor by 041 509 4006 bel. Die polisie se teenmisdaadnommer is 08600 10111. Alle inligting word vertroulik hanteer

Meer oor:  Roof  |  Huisroof  |  Port Elizabeth  |  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.