Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
92 sake uitgegooi weens swak polisiewerk

Swak ondersoekwerk deur die polisie het daartoe gelei dat 92 sake van die hofrol verwyder is, sê Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid.

Hy het syfers bekend gemaak wat die eenheid wat toesig hou oor hofsake in die Wes-Kaap, sedert 1 Julie tot 30 September vanjaar ingesamel het.

Die fokus was op gesinsgeweld, geslagsgeweld asook vrouemoord.

Volgens Fritz is sy departement ingevolge die Grondwet verplig om toesig te hou oor die Suid-Afrikaanse Polisiediens se doeltreffendheid en optrede. Daarom is die eenheid wat toesig oor hofsake hou, in die lewe geroep om aan sy mandaat te voldoen.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR van gemeenskapsveiligheid, Woensdag in Kaapstad. Foto: Verskaf

Die eenheid fokus op sake wat van die hofrol verwyder is weens ondoeltreffende polisiëring. Hulle kyk wat gedoen kan word om die sake weer terug op die hofrol te plaas en moontlike tugstappe wat oorweeg kan word.

Hulle het veral gefokus op polisiekantore waar die genoemde geweld meer algemeen voorkom soos Bishop Lavis, Mfuleni, Delft, Mitchells Plain, Gugulethu, Nyanga, Harare, Philippi, Khayelitsha, Philippi-Oos, Kraaifontein en Ravensmead.

In hierdie gebiede is 92 sake van die rol geskrap weens swak polisiewerk. Van dié sake is 40 geskrap weens ondersoeke wat nie voltooi is nie.

Fritz het twee voorbeelde genoem van sake wat van die rol verwyder is, wat vir hom baie kommerwekkend is.

In die eerste saak is ’n man in die landdroshof in Khayelitsha aangekla van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie. Sy saak is ná nege maande van die rol verwyder omdat die dossier nie na die hof gebring is nie.

Fritz sê hy besef die Covid-19-pandemie het druk op die strafstelsel geplaas, maar dit is onaanvaarbaar om iemand wat as ’n bedreiging vir die gemeenskap gesien word, vry te laat.

“Dié klagte is ernstig en dit is onaanvaarbaar dat dossiere nie by die howe is nie,” sê hy.

Van die 92 sake het 66 gehandel oor geslags- en gesinsgeweld soos seksuele oortredings, aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer, oortreding van ’n beskermingsbevel, poging tot moord en moord.

Hier het ’n saak van ’n man wat ’n beskermingsbevel oortree het in Mitchells Plain ter sprake gekom.

Die man het in Oktober 2019 vir die eerste keer in die hof verskyn en ná agt maande is die saak ook verwyder omdat die ondersoek nie afgehandel is en die dossier nie na die hof gebring is nie.

Fritz sê almal op alle vlakke van die regering moet hul volle samewerking gee om dié soort misdade hok te slaan in ’n land waar dit so gereeld voorkom.

“Alles moet gedoen word om te verseker dat ons vroue veilig voel,” sê hy.

Daarom is beskermingsbevele noodsaaklik en dit is “onaanvaarbaar dat swak en ondoeltreffende polisiewerk dit ondermyn.”

Fritz sê dit kan nie net sy departement wees wat toesig hou en die ondoeltreffende werk van die polisie uitwys nie.

Fritz het die provinsiale polisiekommissaris versoek om kommentaar te lewer oor die sake wat van die rol verwyder is. ’n Verslag sal dan saamgestel word en moet teen 30 Desember aan die staande komitee oor gemeenskapsveiligheid in die provinsie verskaf word.

Meer oor:  Polisie  |  Albert Fritz  |  Wes-Kaap  |  Geslagsgeweld  |  Gesinsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.