Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Aanvalle op openbare vervoerstelsel ‘nie geduld’
Adv. Lennit Max

Die voortslepende aanvalle op die openbare vervoerstelsel in die Wes-Kaap stel nie net die veiligheid van pendelaars in gevaar nie, maar kortwiek ook minderbevoorregtes se toegang tot dié stelsel.

Adv. Lennit Max, voorsitter van die staande komitee vir vervoer en openbare werke in die provinsiale parlement, het gister tydens ’n vergadering tussen die besture van die departement van vervoer en openbare werke, die Golden Arrow-busdiens en die Wes-Kaapse bestuur van die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxivereniging (Santaco) gewaarsku die provinsiale regering sal nie langer geweld in dié bedryf duld nie.

“Daar moét maniere gevind word om die provinsie se trein-, bus- en taxibedryf te beskerm asook om die voortslepende geweld in dié bedryf teen te werk,” het hy bygevoeg.

Yashir Amed van die departement het gereageer deur te sê die departement doen tans alles in sy vermoë om die vrede te herstel.

“Die departement is steeds bekommerd oor die voorvalle van geweld op minstens vier taxiroetes in die stad en ook oor die groot aantal busse van die Golden Arrow-busdiens wat in die afgelope maande deur klipgooiers beskadig is.”

Volgens hom is die Vrygrond-, Delft-, Grabouw-, en Bellville-taxiroetes steeds ’n probleem met die Vrygrond- en die Bellville-roetes wat weens onderlinge struwelings tussen verskillende taxiverenigings in voorvalle van geweld ontaard.

Vernon Billet, voorsitter van Santaco, stem egter nie met Amed saam nie.

Volgens hom is die probleme op die roetes uitgestryk en is die vrede herstel.

“Anders as die Golden Arrow-busdiens wat ’n subsidie van die staat ontvang, word die taxibedryf nie gesubsidieer nie en desondanks stel taxibestuurders elke dag hul lewe in gevaar om die armes te vervoer. Die mense bestee tot soveel as 60% van hul inkomste aan vervoer. Ons hou ons pryse so laag as moontlik, want ons weet waar ons vandaan kom,” het hy gesê.

Volgens Billet sal die moontlikheid van toekomstige subsidies vir die taxibedryf ondersoek móét word.

“Subsidies soos dié moet tog vir almal geld.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.