Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Alex de Koker moet 25 j. tronk toe
Kind is ‘doodgemartel’
Alex de Koker soen sy ma kort nadat hy weens die moord op Raymond Buys gevonnis is. Foto: CORNÉL VAN HEERDEN
Michael Erasmus. Foto: CORNÉL VAN HEERDEN
’n Emosionele Wilna Buys, die vermoorde Raymond se ma, het in trane gesê sy is so dankbaar die vier jaar “van hel” is verby. Sy het gesê sy gaan nou probeer heel word sodat sy met haar lewe kan aangaan.Foto: CORNÉ
Raymond Buys. Foto: CORNÉL VAN HEERDEN

Die swaarste straf moontlik is Donderdag aan Alex de Koker opgelê omdat hy “ ’n weerlose kind sistematies doodgemartel het”.

’n Gespanne De Koker (50), wat reeds vier jaar as verhoorafwagtende in die tronk was, het strak voor hom uitgestaar toe landdros Retha Willemse hom in die Vereeniging-streekhof vir 25 jaar tronk toe stuur weens die moord op en mishandeling van Raymond Buys (15).

Lees ook: Ma in trane toe Alex de Koker aan moord skuldig bevind word

Die 22-jarige Michael Erasmus, De Koker se medepligtige, het in trane uitgebars toe Willemse hom tot effektief drie jaar korrektiewe toesig gevonnis het. Hy is 12 jaar tronkstraf opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is en moet 16 uur per maand gemeenskapsdiens verrig.

Erasmus se vriendin, Cindy Nel, die ma van sy babadogtertjie van sewe weke, het hardop begin snik.

Willemse het aan Erasmus

gesê sy weet hy was self nog maar ’n kind toe hy De Koker se bevele om Raymond te martel, uitgevoer het. Sy het beklemtoon korrektiewe toesig is ’n swaar straf en dat ’n beampte van die departement van korrektiewe dienste hom gereeld, sonder waarskuwing, sal besoek.

“Mnr. Erasmus, jy sal aan jou dogtertjie moet verduidelik waarom mense in uniform jou by die huis besoek,” het sy gesê.

Willemse het De Koker stip in die oë gekyk en gesê: “U het ’n weerlose kind sistematies doodgemartel.

“Raymond is nie in die hitte van die oomblik vermoor nie. U het genoeg tyd gehad om tot jou sinne te kom.”

Lees ook: ‘Jy word geslaan tot jy soos hy is’

De Koker het etlike dae voortgegaan met die marteling sonder om mediese hulp vir hom te kry of om hom na sy ma terug te bring.

“U het ook nooit enige berou getoon nie.”

Willemse het gesê sy kan nie die vier jaar wat De Koker verhoorafwagtend was, in ag neem by vonnisoplegging nie omdat hy “die outeur van sy eie verhaal was”. De Koker het die saak laat sloer deur onder meer telkens van regsverteenwoordigers te verander.

De Koker was die eienaar van ’n sogenaamde opleidingsentrum, Echo Wild Game Rangers. Raymond se ma het haar seun in Januarie 2011 by die skool ingeskryf om as veldwagter opgelei te word. Hy is ná drie maande by die sentrum in die Vereeniging Mediclinic aan veelvul-dige ernstige beserings dood.

De Koker is tot 20 jaar tronkstraf gevonnis weens die moord, vyf jaar weens kindermishandeling en nog twee jaar weens aanranding wat saam met die vyfjaarvonnis uitgedien kan word.

Raymond se ma, Wilna, het nadat De Koker na die selle afgebring is, begin huil en gesê sy is verlig dat die saak “uiteindelik” agter die rug is.

“Ek gaan nou probeer gesond word sodat ek weer kan begin lewe.”

Erasmus het gesê hy is “so bitter bly” hy gaan nie tronk toe nie.

“Ek wil nie hê my dogtertjie moet sonder ’n pa grootword nie.”

De Koker se vrou, Carlien, wou nie kommentaar lewer nie.

Philip Venter, De Koker se regsverteenwoordiger, het gesê hy gaan teen die vonnis appelleer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.