Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Appèlhof: ‘Porno-saak het nie kans op sukses’

’n Aansoek om verlof tot appèl teen ’n beslissing dat pornografie nié op drie TV-kanale uitgesaai mag word nie, was onsuksesvol.

Die Onafhanklike Kommunikasie-owerheid van Suid-Afrika (Okosa) het in Januarie vanjaar die aansoek by die appèlhof in Bloemfontein ingedien en uitspraak is op 17 Maart gelewer.

Okosa het aanvanklik in 2013 lisensies vir die uitsaai van pornografie aan On Digital Media (ODM) toegestaan.

Die Justice Al­liance of South Africa (Jasa), tesame met Cause for Jus­tice (CFJ) en Doctors for Life, het egter in Augustus 2014 ’n aansoek by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om dié besluit tersyde te stel.

Regter Lee Bozalek het hierdie aansoek met koste gehandhaaf.

Okosa het toe ’n aansoek om verlof tot appèl by Bozalek ingedien, maar hy het dit van die hand gewys.

Hierna het Okosa hom sonder sukses tot die appèlhof gewend.

Die appèlhof het Okosa se aansoek met koste van die hand gewys en gesê daar bestaan geen vooruitsig op sukses nie.

Die respondente – Okosa en ODM – kan nou die konstitusionele hof nader vir verlof om te appelleer, of hulle moet Bozalek se uitspraak handhaaf.

Wynand Viljoen, voorsitter van die CFJ, het gesê hulle verwelkom die beslissing van die appèlhof. “Dit beteken dat die uitsaai van pornografie moet stop.”

Indien die konstitusionele hof genader word, sal Bozalek se aanvanklike beslissing opgeskort word, hangende die konstitusionele hof se beslissing.

“Ons glo steeds nie dat dit in die belang van geregtigheid sal wees dat ODM die saak weer op appèl probeer neem nie,” het Viljoen gesê.

“Ons glo dat daar geen vooruitsig op sukses sal wees nie.

“Ons sal steeds enige probeerslag teenstaan.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.