Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bainsvlei-plaasmoord: Tuinwerker treur oor sy mense
John Moholo (49), die tuinwerker op die plaas Kwaggalaagte, Bainsvlei. Sy toekoms is duister nadat Toon en Rienie Swanepoel, die mense wat vir hom omgegee het, vermoor is. Foto: Conrad Bornman

Die mense wat vir hom en sy kinders omgegee het, is weg – en só ook sy werk.

Só sê John Moholo, tuinwerker van die Swanepoel-egpaar van die plaas Kwaggalaagte, Bainsvlei, wat dié week grusaam vermoor is.

“My hart is baie seer. Hulle was goeie, goeie mense. Regtig.”

Toon en Rienie Swanepoel het gehelp om sy kinders, Lukas en Esaia, groot te maak en deur die skool te kry. Rienie het Esaia as seuntjie saam in die motor laat rondry.

Hy en die ander werkers het elke dag ontbyt en middagete saam met die Swanepoels in die huis geniet.

Ná middagete het hy op die bank onder die peperboom gesit en hulle op die stoep en dan het hulle gesels. Sy wou Vrydag nog weet hoe dit met sy vrou gaan wat siek is.

“Ek voel seer, ntate. Regtig. Ek wil vir daai moordenaars vra: Hoekom? As hy net vir my die waarheid kan vertel.”

Die egpaar se hondjie, Bosluis, was Maandag só hartseer toe Moholo ná die naweek by die huis gekom het, dat hy heeldag agter hom aangeloop het. Hul seun, Nico, het die hondjie kom haal.

Die ander hondjie, Vlooi, het ’n ruk gelede weggeraak.

Al wat oor is op die plaas, is die egpaar se mooi, wit ganse en die blomme om die huis wat hulle so keurig versorg het.

Langs die motorhuis is die gras platgetrap waar die drie moordenaars hulle ná kerk ingewag het. Hulle het hier van Toon se sjokoladestafies geëet wat hulle vroeër uit die huis gesteel het.

Waar die verdagtes drie maaltye in die tronk kry, is John Moholo, wat reeds 40 jaar hier woon en werk en altesaam tien jaar in die Swanepoels se diens was, se toekoms skielik onseker.

Sy mense wat vir hom omgegee het, is weg.

En sy werk.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.