Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde stuit 2 booswigte in hul spore
Sit mans met geweer agterna
Chrisman Immelmann vertel hier hoe hy man alleen die twee voornemende aanvallers in hul spore gestuit het. Sy vrou, Petro, is by hom. Foto: Charl Devenish

Met ’n geweer in die hande en pantoffels aan die voete het ’n bejaarde man twee voornemende aanvallers op sy hoewe by Bloemfontein gestuit.

Chrisman Immelmann (73) het eergister omstreeks 22:30 twee voornemende aanvallers op sy kleinhoewe, Die Wenpaal, in hul spore gestuit toe hulle toegang tot sy huis wou kry.

Immelmann vertel hy en sy vrou, Petro (65), was reeds in die bed toe hul honde aan die kef gaan.

Die Immelmann-egpaar het nie lank daarna nie ’n oproep van hul huurders gekry wat sê twee mans loop op die hoewe rond.

Hy sê hy het oombliklik uit die bed gespring, sy pantoffels aangetrek en hom met sy .303-geweer bewapen. Op pad voordeur toe het hy ’n geruk en gepluk aan die deur gehoor.

“Ek het die voordeur oopgemaak, my geweer na hulle gemik en gesê: ‘Wat soek julle hier, ek skiet julle dood.’ ”

Die twee mans het in die donkerte verdwyn, met ’n gewapende Immelmann agterna.

Hy het die twee agter ’n gebou gekry waar hulle hul buit probeer wegsteek het. Hier het Immelmann weer gedreig om hulle te skiet. Dié twee het egter om hul lewe gepleit en is hande in die lug saam met Immelmann na sy huis, waar hy die polisie ontbied het.

Een van die mans het egter weer gevlug. Die ander een was volgens Immelmann te bang om te vlug en het saam met hom op die polisie gewag.

Die ander aanvaller is later by sy huis gevang.

Immelmann sê hoewel hy en sy vrou lank op ’n vangwa van die Bainsvlei-polisiekantoor gewag het, het ’n adujant-offisier van die blitspatrollie binne enkele minute op hul oproep gereageer. Hiervoor kan hulle nie genoeg dankie sê nie.

Hy sê egter hy weet nou dat die Here Sondagnag oor hulle gewaak het.

“Die Here het ons behoed. Hy was met ons, andersins was ons nou nie meer met julle nie.”

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die polisie ondersoek nog die voorval. Die mans verskyn môre in die plaaslike landdroshof weens die besit van vermoedelik gesteelde goedere.

Dit is net genade van Bo. Chrisman Immelmann het met ’n geweer in die hande en pantoffels aan die voete twee voornemende aanvallers op sy hoewe gestuit. Foto: Charl Devenish
Chrisman Immelman vertel hier hoe hoe hy man alleen die twee voornemende aanvallers in hul spore gestuit het. Sy vrou, Petro, is by hom. Foto: Charl Devenish
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.