Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Bejaarde vrou in huis oorval, erg deur rower aangerand
Anne Els (75) se gesig is opgeswel nadat ’n huisrower haar vermoedelik met ’n swaar voorwerp teen die kop geslaan het. Foto: verskaf

’n Bejaarde man van Universitas, Bloemfontein, het gister sy bebloede en “half-flou” vrou in die gang in hul huis aangetref nadat sy deur ’n rower oorval en erg aangerand is.

Johannes Els (76) het omstreeks 12:00 by die huis gekom en op sy vrou, Anne (75), afgekom waar sy in die gang gelê het.

Sy was erg beseer en het byna haar bewussyn verloor.

Anne is die tweede bejaarde vrou wat vandeesweek in Bloemfontein in hul huise beroof is.

Die ander bejaarde vrou, Emily Potgieter (86), is Dinsdag deur twee mans in haar huis in Genl. De Wet oorval en van R8 000 en ’n horlosie beroof.

Kol. Thandi Mbambo, provinsiale polisiewoordvoerder, sê twee mans het deur ’n toiletvenster, wat Potgieter vir haar kat oop hou, geklim.

Sy is nie beseer nie.

Volgens Johannes, wat die oggend rekeninge gaan betaal het, moes die aanvaller oor die duiwelsvurk-heining gespring en deur die oop kombuisdeur toegang tot die huis verkry het.

Die booswig het Anne daarna in die gang oorval en haar vermoedelik met ’n harde voorwerp teen die kop geslaan.

Die linkerkant van haar gesig is erg opgeswel en haar oog is blou, sê hy.

Hy het dadelik sy seun en ER24 gebel en sy vrou probeer help. Sy kon nie loop en praat nie.

Sy word in die Mediclinic Bloemfontein behandel.

Amanda Appelgryn, hospitaalwoordvoerder, sê Anne is in ’n stabiele toestand in die intensiewesorg-eenheid.

Sy het swelling en bloeding in haar gesig opgedoen.

Johannes sê hy het geskrik toe hy in die huis instap en sy vrou in gang aantref.

“Sy was half bewusteloos toe ek haar gekry het. Dit was die sur­prise van my lewe, want ek het nie so iets verwag nie.

“Jy skrik, maar jy moet iets doen. Ek wil eerder nie sê wat ek sal doen as ek hom (die booswig) in die hande kry nie.”

Hy sê hul huis was omgekrap soos die rower na iets gesoek het om te steel.

Die booswig het met ten minste kontant en ’n selfoon gevlug.

Die egpaar se seun, Anton, sê hulle is bly sy ma leef en dat sy geen swelling op die brein het nie.

“Ons voel orraait. Die dokters sê sy is in ’n redelike goeie toestand. Die groot ding is die emosionele trauma wat hierna gaan volg.”

Mbambo sê niemand is nog in albei die voorvalle in hegtenis geneem nie en ’n klagte van huisroof word ondersoek.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.