Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Beroof wyl hy bloei
20 sak op man toe ná ongeluk
Quinton Wagner
Monique Wagner, Quinton se ma, Maandag by die Millpark-hospitaal. Sy het gesê dit was sover ’n moeilike jaar, want haar man is ten aanskoue van haar seun deur rowers doodgeskiet. Foto's: Nelius Rademan
Lionel Henemann en Wayne Boyden was by die ongelukstoneel. Henemann het gesê die rowers se barbaarse gedrag spook by hom.

Terwyl ’n 20-jarige man van Krugersdorp bloeiend langs die pad gelê het ná ’n gru-ongeluk, het sowat 20 omstanders op hom toegesak, hom aan sy gebreekte arm rondgesleep en hom beroof.

Quinton Wagner, wie se pa vroeër vanjaar voor hom in ’n huisrooftog doodgeskiet is, veg om sy lewe in die hoësorgeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg.

Hy is Vrydagmiddag 12:00 in Krugersdorp van sy motorfiets geslinger toe ’n bakkie hom van agter getref het.

Sowat 20 omstanders van ’n nabye minibus-taxistaanplek het Wagner toe “soos ’n stuk lap”rondgepluk en sowat 5 m van die ongelukstoneel die bosse ingesleep.

Sedert hy Vrydag in die hospitaal opgeneem is, het hy drie operasies ondergaan. Hy kan nie self asemhaal nie en is van ’n asemhalingsmasjien afhanklik, het bloed op sy longe, sy lewer is geskeur en ses van sy ribbe, sy regterarm en sleutelbeen is ook gebreek. Wagner se pankreas is beskadig en hy het beserings aan sy bene.

Lionel Henemann, ’n sakeman van Krugersdorp, was op die toneel toe Wagner beroof is.

Henemann het gesê die jong man se regterarm was so erg gebreek dat die been by sy hemp uitgesteek het.

Maar dit het die rowers nie afgeskrik nie. Hulle het hom aan sy gebreekte arm die bosse ingesleep, het Henemann gesê.

“ ’n Kliënt was op pad na my toe. Hy het in die seun vasgery en my onmiddellik vir hulp gebel.

“Ek en ’n vriend was nie te ver van die ongelukstoneel nie en het soontoe gejaag. Ek kon my oë nie glo nie.

“Ons het gesien hoe die seun aan sy arms gesleep word. Toe ons uit my bakkie spring, het van die rowers op ons toegesak. Die rowers het die seun se motorfietshelm van sy kop geruk. Die seun het op sy rugsak gelê. Die rowers het hom soos ’n stuk lap rondgepluk om dit te kry. Hulle het ook onder mekaar baklei om sy skoene af te pluk.”

Henemann het gesê die rowers het hom vasgehou toe hy by die slagoffer wou uitkom.

Sy beursie en selfoon is afgeneem en sy kliënt wat by die ongeluk betrokke was, is ook van sy selfoon en skootrekenaar beroof.

Wayne Boyder, wat saam met Henemann was, het gesê die Krugersdorp-gemeenskapspoli­siëringsforum (GPF) het vinnig opgetree.

“Die GPF het gehelp om die rowers weg te kry. Hulle het die polisie gekontak, maar net een polisievangwa het opgedaag. Ander polisievoertuie het verby ons gery.

“Die GPF het die pad afgesper sodat die nooddienshelikopter kon land. Toe die helikopter wou land, het die rowers gehardloop om op hulle toe te sak. Die GPF het hulle weggehou terwyl twee polisiebeamptes eenkant gaan sit het. Hulle wou nie eens verklarings neem nie.”

Monique Wagner, die slagoffer se ma, het Maandagaand gesê 2014 was tot dusver ’n moeilike jaar omdat haar man in Januarie in ’n rooftog voor haar seun doodgeskiet is.

“Ek hoop en bid my kind oorleef die nagmerrie. Dis net te danke aan God se genade dat hy lewe.”

Ao. Solomon Sibiya, polisiewoordvoerder, kon Maandag nie kommentaar lewer nie. Hy het gesê niemand het hom van die voorval verwittig nie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.