Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boer vuur skote af toe aanvallers hom met stuk yster bydam

’n Boer van Edenburg wat Sondag deur drie booswigte in sy huis ingewag is, het blitsig vier skote op hulle geskiet en om hulp gebel nadat hy met ’n yster oor die kop geslaan is.

“Sussie, hulle val my aan!” het Danie Theron (48) van die plaas Bergfontein in die woeste geveg geskreeu toe hy sy suster, Annelien Liebenberg van Bloemfontein, se nommer om 10:44 op sy selfoon gedruk het.

Danie Theron (48) van die plaas Bergfontein, Edenburg, lê hier bloeiend in sy bakkie kort nadat hy in sy huis deur drie mans ingewag en oor die kop geslaan is. Foto: Verskaf

Terwyl die aanvallers laat spaander het nadat hy op hulle losgetrek het, het sy al die familie en vriende gebel om die polisie van die plaasaanval in kennis te stel.

“Ek het nog gehoor hoe skreeu hy op hulle toe hulle vlug,” het sy vertel.

Sy dogter, Deniel (17), ’n gr. 12-leerling aan Eunice, het gelukkig die naweek by Liebenberg in die stad gekuier.

Terwyl sy optrede waarskynlik sy lewe gered het, het háár optrede bygedra dat die boere vinnig ’n kordon om die plaas getrek het en die polisie hulle na die plaas gehaas het.

’n Boer wat ’n pad afgesper het, het drie jong mans gesien wat doodluiters in die pad aangeslenter het. Hulle is as verdagtes geïdentifiseer en deur die polisie in hegtenis geneem.

Na bewering is die een onlangs uit die tronk vrygelaat en nog een het glo vroeër op die plaas gewoon. Al drie is van Edenburg.

Liebenberg het gesê haar broer was die oggend alleen op die plaas. Hy het gaan perd ry en op verdagte spore in die veld afgekom.

Hy is oorval toe hy afgesaal en die huis ingegaan het.

Hy vermoed die man wat hom geslaan het, het op die solder geslaap.

Theron het altyd ’n rewolwer by hom. Die oomblik toe die hou hom tref, het hy omgeswaai en op hulle geskiet. Die booswigte het toe reeds die kluis oopgesny en sy beursie met R1 500 in gebuit.

Theron het heelwat bloed verloor. Hy is na ’n dokter in Trompsburg gebring wat die steke geheg en hom op ’n drup gesit het.

Sy suster van Reddersburg, Hester Geyser, die suster van die Trompsburg-ouetehuis, het die dokter bygestaan om sy wonde te heg.

Hy sal vir ’n volledige ondersoek na ’n Bloemfonteinse hospitaal gebring moet word.

Liebenberg sê die familie is uiters geskok oor die aanval. Die plaas is al langer as ’n eeu in hul familie se besit en dit was die eerste aanval.

“Boetie sê hy word altyd deur God op die plaas beskerm. Hy voel altyd veilig en kan vryelik rondbeweeg. Hy het ná die aanval net vir ons gesê: ‘Onthou, ek lewe.’ ’’

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.