Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Boodskappe met vee-bestellings op verdagte se foon gevind
Uit die teksboodskappe op die selfone was bestellings met afleweringspunte én kon die polisie vasstel dat hulle ook die vermeende sindikaatleier in hegtenis gehad het.

Teksboodskappe met bestellings vir skape op ’n vermeende veedief se selfoon het die polisie gelei na wat hulle glo die hoof van ’n veediefstalsindikaat is.

Sowat 180 skape, met ’n geskatte waarde van R360 000, is die afgelope vier maande in Wolwefontein, Kirkwood en aan die buitewyke van Uitenhage en Port Elizabeth gesteel.

Die polisie se eenheid teen veediefstal, wat in Uitenhage gesta­sioneer is, het maande lank die voetwerk gedoen en ’n rits kleiner rolspelers in die vermeende sindikaat vasgetrek.

Met die jongste inhegtenisneming van vier verdagtes is hulle selfone onder andere nagegaan.

“Uit die teksboodskappe op die selfone was bestellings met afleweringspunte én kon die polisie vasstel dat hulle ook die vermeende sindikaatleier in hegtenis gehad het.

“Die boodskappe bied ook genoeg leidrade om die verdagtes met verskeie ander sake te kan verbind,” het ao. Basil Seekoei, polisiewoordvoerder, gesê.

Spesiale patrollie

Die deurbraak volg ná ’n spesiale patrollie Donderdagaand toe die verdagtes skaars tien meter van ’n groep van agt skape, wat met draad vasgebind was, betrap is.

Veediefstal het sulke afmetings aangeneem dat die polisie se veediefstal-eenheid in Uitenhage en ’n spesiale taakspan bestaande uit beamptes van die Kabega-polisiekantoor saamgewerk het om die booswigte op te spoor.

Elke keer het hulle afgekom op “klein splintergroepe met dieselfde modus operandi”, het Seekoei gesê.

Van die suksesse wat die polisie die afgelope paar maande behaal het, sluit in:

■ Sewe verdagtes wat in Julie in Kookhuis in gehegtenis geneem is met vier skape in hul besit; 

 Drie verdagtes met 11 skape op hulle bakkie wat in Augustus in die Elandsrivier-gebied net buite Uitenhage betrap is. Die skape, wat behoorlik gemerk was, is aan hulle eienaar terugbesorg; 

 Twee verdagtes wat in September in hegtenis geneem is in die Cathcart-distrik. Die verdagtes het na bewering vyf dragtige ooie se bene tydens die diefstal gebreek.

Een van die twee verdagtes is skaars ’n week tevore op parool vrygelaat nadat hy vir ’n vlaag skaapdiefstalle in 2011 drie jaar tronkstraf opgelê is.

Peter Hartley, ’n boer in die Cathcart-distrik, het tydens dié voorval gesê dit is algemene kennis dat sindikate agter baie van die skaapdiefstalle sit en die diewe wat die polisie vang, slegs die voetsoldate vir die groothandelaars is. Die polisie glo die bordjies is nou verhang.

Skape vasgebind

Die afgelope Donderdag het veeboere van Kirkwood en Wolwefontein saam met die taakspan patrolliewerk gedoen toe die verdagtes se motor langs die R75 tussen Kirkwood en Wolwefontein deur ’n boer opgemerk is.

“Die motor het baie stadig gery en was sowat ses kilometer weg van waar vier veediefstalvoorvalle baie onlangs aangemeld is.”

Met die aankoms van die veediefstaleenheid se beamptes het die verdagte motor tot stilstand gekom. “Die motor se vier insittendes was besig om die noodwiel uit die bagasiebak te haal toe die beamptes die wol en mis in die bagasiebak sien,” het Seekoei gesê.

Die wol en misspore het beamptes tien meter verder na ’n draad gelei. Daar is agt skape, elk met ’n geregistreerde oormerk, met draad vasgemaak aangetref. Sewe van die agt skape was dragtig.

“Daar waar die draad om die skape se bene vasgemaak was, het dit so groot soos ’n tennisbal opgeswel,” het Seekoei bygevoeg.

Wol op die klere

Die vier insittendes van die motor, tussen 24 en 34 jaar oud, wat ook wol op hul klere gehad het, is in hegtenis geneem en die polisie glo teksboodskappe op een van hulle se selfone dui daarop dat hy die sindikaatleier is.

Die polisie wou nie veel meer oor dié vermeende sindikaatleier verklap nie, maar het wel gesê hy kan met sake wat so ver as 250 km om Uitenhage strek, verbind word.

Al vier die verdagtes sal vandag in die Uitenhage-landdroshof verskyn.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.