Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
daar was geen oortredings, sê kommissaris
Don Steenkamp word na ander tronk oorgeplaas
Don Steenkamp

Don Steenkamp (18), die gesinsmoordenaar en verkragter van Griekwastad, is na ’n ander gevangenis in die sentrale deel van Suid-Afrika oorgeplaas.

Die departement korrektiewe dienste sê Steenkamp is nie aan enige oortredings in die tronk skuldig bevind nadat ’n ondersoek gelas is nie. Die oorplasing was vir veiligheidsredes.

Dit kom ná berigte dat hy in sy spoor moet trap as ander gevangenes voel hy word bo hulle bevoordeel.

Hy was voorheen in die Kimberley-gevangenis.

Gerugte het die ronde gedoen dat hy sy voordele in die tronk misbruik het deur meer te bel as wat toegelaat word. Hy het na bewering ook wegneemkos na sy sel geneem. Hy is in ’n enkelsel aangehou.

Steenkamp is effektief 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy in Maart skuldig bevind is aan die moorde op Deon Steenkamp (43), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14) en Marthella se verkragting, asook regsverydeling. Die gesinstragedie het op 6 April 2012 op die plaas Naauwhoek naby Griekwastad afgespeel.

Grace Molatedi, adjunkstreekkommissaris van die departement korrektiewe dienste in die Vrystaat en Noord-Kaap, het bevestig hulle het ondersoek ingestel na bewerings dat hy meer oproepe per maand maak as die toegelate vier, en na die wegneemkos.

“Ons het bevind dat daar geen oortredings was nie. Die ondersoek is afgehandel. Hy is vir sy eie veiligheid na ’n ander gevangenis oorgeplaas. Hy is in ’n maksimum kategorie en is daarom oorgeplaas. Ons maak om veiligheidsredes nie die naam van die gevangenis bekend nie.”

Don is volgens ’n ingeligte nou in ’n enkelsel. Hy het al besoekers ontvang.

Voorheen is sy besoeke en besoekers in die Kimberley-gevangenis streng deur sy eertydse voogde, Bennie en Hanlie Heckroodt, gereël.

Steenkamp skryf ’n boek oor sy lewe terwyl hy in die tronk is.

Sy appèl teen sy skuldigbevinding en vonnis word op 9 Maart in die Noord-Kaapse hooggeregshof deur ’n volbank van drie regters aangehoor.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.