Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Don kan teiken word as hy reëls buig
Ingeligtes waarsku oor beweerde bevoordeling
Don Steenkamp met een van sy laaste verskynings in die Kimberleyse hooggeregshof. Foto: Mary-Ann Palmer

Don Steenkamp (18), die gesinsmoordenaar en verkragter van Griekwastad, moet volgens ingeligtes in sy spoor trap as ander gevangenes voel hy word bo hulle bevoordeel.

Die departement van korrektiewe dienste het ook bevestig hulle gaan bewerings dat Don reëls oortree, ondersoek.

Don is effektief 20 jaar tronkstraf opgelê nadat hy in Maart skuldig bevind is aan die moorde op Deon Steenkamp (43), sy vrou, Christel (43), en hul dogter, Marthella (14), die meisie se verkragting en regsverydeling.

Ingeligtes beweer Don bel meer uit die tronk as wat hy mag, en het wegneemkos na sy selle geneem, wat teen die reëls is.

Hy word ook in ’n enkelsel, eerder as ’n gedeelde sel, aangehou, omdat “die Kimberley-gevangenis waar hy aangehou word, nie maksimumsekuriteitsgeriewe vir ernstige jeugmisdadigers het nie”, sê Grace Molatedi, adjunkstreekkommissaris van die departement van korrektiewe dienste in die Vrystaat en Noord-Kaap. Sy het bevestig hulle sal ondersoek instel na bewerings dat hy meer oproepe per maand maak as die toegelate vier.

Gevangenes mag volgens Molatedi net naweke bel.

Ingeligtes sê Don het een van sy familielede twee keer in twee weke op weekdae gebel. Die persoon is ook op tye gebel wanneer hy moet oefen of in sy sel opgesluit moet wees. Don bel glo een van sy ander ondersteuners ook elke tweede dag.

Molatedi sê alle oproepe moet deur ’n bewaarder in ’n register opgeteken word. “Gevangenes mag oproepe maak om in kontak met geliefdes te bly. Alle oproepe word aangeteken in die voordele-stelsel. Dit word nagegaan sodat voordele nie misbruik word nie. Telefone is op strategiese punte waar gevangenes in daardie eenheid dit kan gebruik.”

Nog ’n ingeligte wat by die departement gewerk het, sê oproepe mag nie langer as tien minute wees nie. Bewaarders moet self die telefoonnommer skakel en na die gesprek luister. Ná ’n gesprek moet die bewaarder en gevangene die register teken.

As daar oortredings is, moet die bewaarders antwoorde gee oor hoe dit moontlik is. Daar is ook bewerings dat Don in Oktober op ’n gesinsdag by die tronk sakke kos na sy sel geneem het. Sy besoekers het wegneemkos saamgebring. ’n Bewaarder het hom glo gehelp om die oorskiet na sy sel te neem. Molatedi sê dit sal ondersoek word.

Don se ondersteuners betaal maandeliks glo sowat R450 in sy snoepierekening in waar hy lekkernye en toiletware kan koop.

Die ingeligte sê Don en sy ondersteuners moet versigtig wees. Ander gevangenes kan hom teiken as dit blyk dat hy meer voordele as hulle geniet.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.