Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dosent ‘soos dier geslag’
Woonstel met bloed deurtrek
Lehlohonolo Mathengtheng Foto: verskaf
Dit waar Mathengtheng gebly en vermoor is. Foto: Charl Devenish

Die bebloede lyk van ’n jong dosent en nagraadse student aan die Universiteit van die Vrystaat, wat byna “soos ’n dier geslag” is, is in sy woonstel in Bloemfontein gekry.

Alles dui daarop dat Lehlohonolo Mathengtheng (27), ’n gewilde dosent in die departement mediese mikrobiologie en virologie, wreed in sy woonstel in die Madaleenhof-woonstelblok in King Edwardweg vermoor is.

Hy is die vierde Kovsie-student wat die laaste twee maande tragies dood is.

Polisiebeamptes het Sondag omstreeks 09:30 op sy naakte lyk afgekom waar dit in ’n plas bloed gelê het.

Hy is waarskynlik reeds Vrydagaand vermoor, want toe die polisie hom Sondagoggend ontdek, was die bloed reeds droog, het konst. Wendy Nkobi, polisiewoordvoerder, gesê.

Vriende en bure het hom ook Vrydag laas lewend gesien.

Volgens Nkobi moes die polisiebeamptes die veiligheidshek van die woonstel oopbreek om toegang tot die bebloede woonstel te kry.

Nkobi sê die hele woonstel was deurtrek met bloed en albei die kamers het bloed aan die beddens, vloer en mure gehad.

’n Bebloede mes, wat waarskynlik die moordwapen is, ’n gebruikte kondoom en twee selfone is in een van die slaapkamers gekry.

Rus in vrede, Matheng. Dit was wonderlik om saam met jou te werk en te sing en om jou ’n vriend te kon noem. Jou breë glimlag sal vir altyd in ons herinneringe wees.
Lise van Schalkwyk

’n Bebloede Mathengtheng het op sy rug in ’n ander kamer gelê. ’n T-hemp, wat ook deurtrek is met bloed, het langs hom gelê.

Volgens Nkobi het die oorledene ’n snywond aan sy nek gehad en het dit byna gelyk of hy soos ’n “dier geslag is”.

Bebloede voetspore het van die een kamer na die ander kamer gelei.

Polisielede wat op die toneel was, het dit as verskriklik beskryf en was gisteroggend steeds emosioneel.

In dié stadium word niks uit die woonstel vermis nie en is net ’n motor weg.

Mathengtheng se huismaat is sedert Vrydagaand in Johannesburg.

Vriende het Mathengtheng, wat in Odendaalsrus grootgeword het, as ’n diep gelowige beskryf wat altyd reg gestaan het met ’n grappie en ’n poets, berig Pieter Steyn.

“As dit maar net ’n poets was wat Lehlohonolo ons bak!” het ’n hartseer Azeeza Rangunwala, ’n kollega en vriend, gesê.

Mathengtheng, wat vroeër in die Universiteitskoor gesing het, het Donderdag in sy laaste Facebook-inskrywing die Here gedank vir die vreugde in sy lewe.

Vriende het met skok op Facebook op sy dood gereageer.

“Rus in vrede, Matheng. Dit was wonderlik om saam met jou te werk en te sing en om jou ’n vriend te kon noem. Jou breë glimlag sal vir altyd in ons herinneringe wees,” het Lise van Schalkwyk geskryf.

Lacea Loader, UV-woordvoerder, het gesê die universiteitsgemeenskap is saam met Mathengtheng se familie en vriende hartseer oor sy ontydige afsterwe en wens hulle krag en sterkte toe in hierdie moeilike tyd van beproewing.

Prof. Anwar Hoosen, die departementshoof van die departement mediese mikrobiologie en virologie, het gesê Mathengtheng se dood is baie hartseer vir die personeel en studente van dié departement.

“Dit is inderdaad ’n baie hartseer gebeurtenis aangesien al die personeel en kollegas baie lief was vir Matheng.

’n Klag van moord word ondersoek.

Enigeen met inligting oor die moord kan ao. K.D. Mathibela, die ondersoekbeampte, by 083-725-7997 bel.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.