Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Ds. Solly Ozrovech word nie vervolg
‘Sy gewete sal hom aan die gang hou,’ sê die eerste klaer
Willy Harvie, een van ds. Solly Ozrovech se beweerde slagoffers. Foto: VERSKAF
Naas van Zyl, beweerde slagoffer. “Dit is nou water onder die brug,” sê hy.
Peter Atterbury, ook 'n beweerde slagoffer. “Wat kan ’n ou maak?” het hy hoorbaar ontsteld gesê.

Ds. Solly Ozrovech (88) sal nie verder ondersoek word of vervolg word vir die beweerde molestering van minstens vier weeskinders dekades gelede nie.

Hoewel dié beweerde voorvalle vandag as verkragting in die reg omskryf word, is dit destyds deur die wetgewer slegs as onsedelike aanranding op seuns beskou.

Die klagtes teen Ozrovech het dus al in 1983 verjaar, het die direkteurs van openbare vervolging (DOV) in die Wes-Kaap en Oos-Kaap onafhanklik van mekaar besluit.

Hulle het die polisiedossier met die eedsverklarings van die beweerde slagoffers, asook ander getuieverklarings oorweeg.

Ozrovech se liggaamlike en psigiese vermoë om sinvol tot die ondersoek by te dra en moontlik in ’n hof tereg te kan staan, is ook in ag geneem.

Eric Ntabazalila, woordvoerder van die DOV in die Wes-Kaap, het aan Rapport gesê al die beweerde voorvalle sou tussen 1959 en 1963 by onderskeidelik die Ugie-weeshuis, ’n vakansieoord in Port St. John’s, en in die Strand plaasgevind het.

Ntabazalila sê die reg om ’n verdagte weens oortredings te vervolg verjaar ná 20 jaar, tensy dit moord, hoogverraad, roof met verswarende omstandighede, ontvoering, kinderdiefstal of verkragting is.

“Die beweerde oortredings is destyds as onsedelike aanranding geag en het dus in 1983 verjaar.”

Adv. Jan Swart, regsverteenwoordiger van die beweerde slagoffers, sê aan Rapport:

“Ons aanvaar die DOV’s se besluit. Uiteindelik sou die saak staan of val by Ozrovech se vermoë om die verrigtinge te volg.

“Ons het uit die staanspoor gedink dit gaan ’n opdraande stryd wees.”

Die NG Kerk het in Augustus 2014 besluit om sy ondersoek teen Ozrovech te laat vaar omdat die ondersoekliggaam van die ring van Bell­ville geen bevinding oor sy skuld of onskuld kon maak nie.

Volgens prof. Dawie de Villiers, departementshoof in prosesreg aan die Universiteit van Johannesburg, word die toerekenbaarheid van ’n verdagte bepaal volgens wat dit was rondom die datum wat die beweerde misdrywe gepleeg is.

Die verhoorbaarheid van ’n beskuldigde – waaronder Ozrovech se geestesgesteldheid – word bepaal wanneer die persoon vervolg word.

“Die DOV’s was heeltemal korrek in hul besluite,” sê De Villiers.

Jacques Louw, Ozrovech se regsverteenwoordiger, het gesê die DOV’s se besluite is vir hom nuus en hy wil dit eers met die familie bespreek. Hy het nie op verdere navrae gereageer nie.

Naas van Zyl (68), die eerste klaer wat Ozrovech in die media ontbloot het, sê aan Rapport hy wou destyds net “ ’n persoonlike verskoning” van Ozrovech hê.

“Maar hy (Ozrovech) het gesê God sal besluit; God gaan sy regter wees aan die einde van die dag.”

Die vier klaers, wat vandag self oupas is, beweer Ozrovech het hulle as jong weeskinders in die kinderhuis in Ugie in die Oos-Kaap gesodomiseer en seksueel aangerand terwyl hy direkteur van dié kinderhuis was.

“Dit is nou water onder die brug,” sê Van Zyl.

“Geskiedenis. Maar sy gewete sal hom aan die gang hou.”

Willy Harvie (66), nóg ’n klaer, is erg teleurgesteld.

Sy grootste wens, om Ozrovech voor ’n hof in die oë te kyk, is verpletter.

“Eers het die NG Kerk ons afgeskiet en nou het ook die gereg ons gefaal. Reg en geregtigheid het nié geskied nie.

“Die speurders het gesê ons het ’n sterk saak. Hoekom het hulle ons vals hoop gegee?” sê Harvie.

Die ander klaers, Peter Atterbury (70) en “Gibbe” Gerber (66), deel Harvie se teleurstelling.

“Wat kan ’n ou maak?” het Atterbury hoorbaar ontsteld gesê. Hy het verlede jaar van Oudtshoorn Kaap toe gery om voor die NG Kerk-ondersoekliggaam te verskyn. Maar kort voor die tyd is hy per SMS ingelig deur ds. Charl Stander, voorsitter van die ondersoekliggaam, die ondersoek is “uitgestel” weens Ozrovech se toestand.

Harvie het Stander gebel. “Ek het gevra kan hy (Ozrovech) praat? Dan gaan ons na sy huis toe. Stander het gesê dit is nie ‘etiket’ nie. Van die begin af word hy beskerm en nou wéér,” sê Harvie.

Gerber sê: “Dit is jammer die feite is nie in die hof getoets nie. Nou sal die publiek nooit die waarheid weet nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.