Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Eugene de Kock is reeds vry – en het werk gekry
Eugene de Kock. Foto: Argief

Eugene de Kock (66) is reeds ’n vry man.

’n Ingeligte in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria sê De Kock is al vroeër die week uit die gevangenis geneem in afwagting van sy vrylating op parool.

“Hy is beslis nie meer in die tronk nie,” het die ingeligte gesê.

Dit is onbekend waar hy hom tans bevind.

Die politieke wetenskaplike dr. Piet Croucamp, wat hom jare reeds vir die vrylating van De Kock beywer, wou gister niks oor De Kock se bewegings sê nie.

Hy sê hy het reeds vir De Kock ’n werk gekry.

“Ons het alles mooi uitgewerk. Hy kom in vir ’n soft landing.”

Hy sê De Kock wil nou die normale lewe probeer lei wat hom nooit beskore was nie.

“Vir die eerste 20 jaar van sy (volwasse) lewe het hy mense doodgemaak.

“Die volgende 20 jaar het hy in die tronk gesit.

“Hy is ’n grootmens, maar hy ken nie ’n normale lewe nie.

“Sy voorneme is om net ’n bietjie aan te beweeg.”

Dit was ’n geheime ontmoeting sowat twee jaar gelede tussen ­De Kock en MK-veterane op soek na ’n vermiste makker wat die weg gebaan het vir De Kock se suksesvolle paroolaansoek die afgelope week.

Hy is 'n grootmens, maar ken nie 'n normale lewe nie.

Tydens dié ontmoeting het De Kock waardevolle inligting verskaf wat die groep veterane gelei het na die deur van ’n ander voormalige polisielid wat by die verdwyning van dié man betrokke was en so kon hulle die dekades lange raaisel ontrafel.

Croucamp sê dié ontmoeting – en vele ander soortgelykes daarna – was “absoluut kardinaal” om De Kock se vrylating te verseker.

“Die empatie wat daar van die MK-ouens vir De Kock bestaan is op ’n irrasionele vlak.”

Binne twee weke ná die daardie ontmoeting het De Kock sy belofte gestand gedoen deur te help met inligting wat vrede kon bring aan ’n 86-jarige ma wat toe reeds dekades lank na haar kind soek.

“Sy het by die WVK gesit en dag ná dag na getuienis geluister in die hoop dat sy haar kind se naam hoor, sonder enige sukses.

“Twee weke (nadat De Kock betrokke geraak het) kon ons vir haar sê: ‘Ons het nie ’n liggaam of bene gehad nie, maar ons kan vir jou vertel wat van jou kind geword het – die storie van sy laaste ure.’ ”

Hy sê De Kock het in baie gevalle nie self die inligting nie, maar kan help om oudkollegas wat die inligting het, te oorreed om hul geheime te deel.

Croucamp sê hulle is oudveiligheidspolisielede wat destyds nie om amnestie wou aansoek doen nie omdat hulle nie die stelsel vertrou het nie – “bang dat hulle soos De Kock sou opeindig”.

“Hulle is nou bereid om te help as jy vir hulle verduidelik dat jy nie belangstel in vervolging nie, dat jy net vir ’n ou antie wil sê wat van haar kind geword het.”

Croucamp sê hy glo binne die ANC is daar “geen aptyt” meer om enige polisielid of politikus uit die apartheidsera te vervolg nie.

“Om dit te doen, gaan baie geld en baie bevoegde aanklaers verg.

“Justisie het nie geld nie en die nasionale vervolgingsgesag is op sy knieë.

“So, ek dink nie dit gaan sommer gebeur nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.